Eienaars van kommersiële landbougrond sit met hul hande in die hare oor oënskynlike foute op die grondbelastingaanslae – vir die afgelope vyf jaar – wat hulle tans in die pos ontvang.

Die aanslag bevat ʼn oënskynlike berekeningsfout, het die Namibië Landbou-unie (NLU) onlangs aan sy lede gesê. Lede word aangeraai om hul belasting eerder sélf te bereken.

Me. Tanja Dahl, die NLU se woordvoerder, sê hulle word oorval met navrae van grondeienaars wat reeds hul eerste grondbelastingaanslae ontvang het.

“Dit blyk asof die koers nie sedert die laaste vyf maande van 2017-’18 afwaarts van 0,75% na 0,4% aangepas is nie. Die aanpassing moet gedoen word ingevolge regeringskennisgewing no. 290 van 19 Oktober 2017,” het sy gesê.

Bogenoemde koersverlaging is in die Staatskoerant gepubliseer.

“Die NLU het reeds met die waardeerder-generaal binne die ministerie van landbou, water en grondhervorming in gesprek getree. Die ministerie is besig om die kwessie te ondersoek,” het die NLU gesê.

Die unie het ʼn tabel aan grondeienaars verskaf om self hul belasting uit te werk.

“Lede word versoek om ʼn self-assessering te doen om te bepaal wat hul belasting is. . .”

Grondbelasting vir die afgelope vyf jaar is teen 31 Oktober vanjaar betaalbaar.

Republikein het gister navrae hieroor aan die ministerie se woordvoerder, mnr. Jona Musheko, gerig, wat onderneem het om binnekort hierop te reageer. Terselfdertyd hoop die NLU ook om teen môre, met die uitreik van hul jongste nuusbrief, meer lig op die saak te kan werp.

Die NLU sê dit ontvang ook baie navrae oor die prosedure vir die elektroniese betaling van grondbelasting.

“Ons wag tans vir die regering vir die finale prosedure. Sodra dit beskikbaar is, sal dit aan lede deurgegee word.”

BEREKEN SÓ

In ʼn spesiale nuusbrief wat reeds vroeër vandeesmaand uitgestuur is, verduidelik die NLU aan sy lede dat grondbelasting betaalbaar is op die onverbeterde waarde van jou plaas (unimproved site value of USV), volgens die waardasierol van 2007.

Hiervolgens is die korrekte koers van grondbelasting vir Namibiese burgers 0,75% vir die 2016–’17-boekjaar asook die eerste sewe maande van 2017–’18 (April tot Oktober).

Daarna geld ʼn aangepaste belastingkoers van 0,4% vir November tot Maart van die 2017–’18-boekjaar, asook die boekjare 2018–’19 en 2020–’21. Geen belasting is vir die 2019– ’20-boekjaar betaalbaar nie.

Vir buitelandse burgers wat eienaars van kommersiële landbougrond is, geld dié koers plus ’n bykomende 1%. ʼn Progressiewe belastingkoers van 0,25% geld vir elke bykomende plaas (titelakte) wat ʼn grondeienaar besit.

Die NLU voeg by sy standpunt was nog altyd dat sy lede aangemoedig word om grondbelasting te betaal.

VIER JAAR

Sedert die 2016-’17-boekjaar is daar weens ʼn voortslepende hofgeding geen grondbelastingbetalings geëis nie, terwyl kommersiële produsente kwytskelding vir die 2019-’20-jaar gekry het weens die uitdagings van Covid-19.

Intussen is die hofsaak afgehandel en is grondbelasting weer betaalbaar.

Belastingaanslae word tans volgens die 2007-waardasierol bereken, terwyl die nuwe waardasierol vir 2022 tot 2027 nog gefinaliseer word.

Die hoërhof het die vorige twee waardasierolle, van 2012 en 2017, geskrap.

In 2019 het die hof die mees onlangse waardasierol (2017-’22) nietig verklaar en grondeienaars ná ʼn twee jaar lange hofstryd gelyk gegee dit is nié wetenskaplik volgens die produksie-potensiaal van grond uitgewerk nie.

In Februarie 2018 het hoërhofregter Hosea Angula ’n interdik uitgereik om die regering te verbied om grondbelasting te hef ingevolge die omstrede waardasierol van 2012, waarvolgens die waardasies van plase met tot 900% verhoog is.

Die grondwaardasierol van 2007 word oor die algemeen as redelik en bekostigbaar deur grondeienaars aanvaar.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.