Die oudlanddros en eertydse Namibiese rugbyspeler, mnr. Walter (Rooies) Mostert, het ’n aansoek by die hof ingedien in ’n poging om ’n bevel te kry wat hom van vervolging sal kwytskeld en sy vrylating sal waarborg.

Die saak teen Mostert in die streekhof in Windhoek is gevolglik tot 30 Januarie uitgestel hangende die uitkoms van dié siviele saak in die hoërhof, wat tot 21 Oktober uitgestel is.

Hy beweer sy inhegtenisneming en voortgesette aanhouding is ongrondwetlik en eis sy vrylating.

ONGERYMDHEDE

Volgens Mostert het ’n landdros nie die lasbrief vir sy eerste inhegtenisneming in Mei 2021 onderteken nie, soos deur die wet vereis.

Hy voer op grond hiervan aan enige optrede deur die owerhede daarna, is onwettig en ongegrond.

Mostert voer in sy verklaring aan verskeie ongerymdhede in sy saak het van die begin af voorgekom.

Luidens sy verklaring het die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) glo nie sy saak behoorlik ondersoek nie.

“Ek wil hê jou [Basilius Dyakugha] kantoor moet ACC-amptenare se beweerde korrupsie en misbruik van magte ondersoek,” het Mostert in Maart vanjaar in ’n brief aan die ombudsman gesê.

“My fundamentele regte en vryheid is geskend en skendings van fundamentele regte en vryheid behoort nie geduld te word nie.”

In ’n verklaring – wat ook aan die ombudsman gestuur is – beskuldig Mostert die ACC se hoof van ondersoeke, me. Justine Kanyangela, van meineed.

Hy voer ook aan die ACC het hom onder valse voorwendsels ’n verklaring laat aflê toe hulle hom na bewering laat glo het dat hy ’n getuie is en nie ’n verdagte nie.

AGTERGROND

Mostert is in 2015 in hegtenis geneem op klagte ingevolge die teenkorrupsiewet en die wet op immigrasiebeheer, geldwassery, afpersing, bedrog en pogings tot regsverydeling.

Die voorvalle het tussen 2012 en 2013 plaasgevind toe Mostert en sy medebeskuldigdes, mee. Joyline Kambatuku, Eveline Meroro en mnr. Joram Salomo, ’n Suid-Afrikaanse gesin gehelp het om Namibiese identiteitskaarte onwettig te bekom.

Mostert het op 6 November vanuit die Auas Hill-hospitaal in Windhoek ontsnap waar hy destyds onder bewaking mediese behandeling ontvang het.

Hy is weer in Maart vanjaar naby Tses in hegtenis geneem toe hy probeer het om Namibië weer vanuit Suid-Afrika binne te sluip.

Hierna is die saak van die rol geskrap nadat die staat erken het ’n landdros het nie die lasbrief vir Mostert se inhegtenisneming onderteken nie.

Voordat Mostert egter vrygelaat kon word, is ’n tweede lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik.

Hy word tans by die Windhoek Sentrale Gevangenis aangehou.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.