“’n Bepaalde boodskap moet aan die ouer garde gaan – dit is dat ons baie meer akkommoderend teenoor jonger boere moet wees, ons moet meer eerlike gesprekvoering hê.

“Ons sien so baie dat jongmanne met groot drome en verwagtinge plase toe kom. Ons as die ouer generasie bly stagnant en wil nie akkommoderend wees nie. Dan verloor ons hierdie mense. Kom ons as ouer garde wees ook vernuwend in ons denke.”

Só het die Namibië Landbou-unie (NLU) se president, Piet Gouws, tydens die afgelope NLU-kongres gesê terwyl hy ’n handvol jong boere voorgestel het wat voorts op die NLU se jongboerkomitee sal dien.

Die jongboere van oraloor die land wat jonger as 40 jaar is, vorm deel van die komitee en een van hul doelwitte is om meer lede te werf.

“Die komitee is gebore tydens ons onlangse besoek aan boereverenigings. Dit was opmerklik hoeveel jongboere terug op plase is en vandag ook op die kongres is,” het Gouws tydens sy presidentsrede gesê.

“Hierdie jongmanne is nie almal noodwendig lede of deel van georganiseerde landbou-instellings nie, of hulle is lede, maar nie deelnemend nie.

“Die komitee is gestig, na verskeie skakelings met lede, en het op Dinsdag 13 September hul eerste vergadering in Windhoek gehou,” het hy gesê.

Hy sê tydens die geleentheid is daar openhartig gesels oor wat jongboere daarvan weerhou om plaas toe te gaan, asook wat hulle keer om aan bedrywighede van boereverenigings deel te neem. Daar is ook gesels oor wat hulle positief en opgewonde maak,” sê Gouws.

“‘n Groot beperking by die jonger boere en boerinne is finansies. Ek wil kommersiële banke uitdaag om dringend te kyk na die finansieringsinisiatiewe vir hierdie jongboere, sonder dat pa se plaas as sekuriteit moet dien,” het hy gesê.

Hy meen ook ouer boere kan baie doen om jongeres ’n kans te gee.

“Dit is van kardinale belang dat ons openhartig met die jongmanne praat. Hierdie jongmense het ’n passie en visie vir landbou en hulle kyk met totale nuwe oë en bring nuwe inisiatiewe na die tafel.

“Hulle is innoverend, hulle is gemotiveerd. Kom ons luister na hul planne en omarm die noodwendige veranderings wat dit meebring, want dis nodig dat dit gebeur.

“Kom ons wees ontvanklik. Konflik gaan daar seker wees, maar ons as ouer generasies moenie paternalisties en diktatoriaal optree nie,” het Gouws gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.