Brigitte Weidlich – Die regering se jarelange plan om ’n landswye minimum loon in te stel, moet nou teen Maart 2024 geïmplementeer word.

So het die minister van arbeid, werkskepping en nywerheidsbetrekkinge, Utoni Nujoma, aangekondig.

“Die regering beoog ’n minimum loon van N$18 per uur,” het Nujoma Vrydag by die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) se kongres aangekondig. Die vakbond se 11de kongres het op die plaas Rietfontein naby Grootfontein plaasgevind.

“Ek lig u met graagte in dat ek verlede maand die Loonkommissie se verslag oor die instelling van die nasionale minimum loon, ondersteun deur ’n uitvoerbaarheidstudie en aanbevelings van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO), aan die Arbeidsadviesraad gestuur het,” het Nujoma gesê.

“Die voorstel is ’n nasionale minimum loon van N$18 per uur. Ons beplan om die nodige konsultasie- en kabinetsprosesse te voltooi om ’n nasionale minimum loon teen die eerste kwartaal van volgende jaar in te stel.”

Die minister het ook gesê ’n minimum loon is nie ’n plaasvervanger vir kollektiewe onderhandeling met vakbonde nie. Die minimum loon het ten doel om diegene wat ’n lae inkomste verdien te bevoordeel, veral diegene wat nie aan ’n vakbond behoort nie. Na verwagting sal die lone en voordele waarvoor vakbonde namens hul lede kan beding die minimum loon oorskry, het Nujoma verduidelik.

Namibië het reeds minimum lone in die landbou- en konstruksiebedryf, waarvoor die private sektor met die vakbonde onderhandel het. Die regering self het voorheen ’n minimum loon vir huishoudelike werkers vasgestel.

Nujoma het ook aangekondig dat Namibië aan die Verenigde Nasies (VN) se Global Accelerator-program vir werk en maatskaplike beskerming deelneem. Onder hierdie program ontwikkel Namibië tans ֺ’n “ambisieuse padkaart” om programme in te stel wat ’n beduidende en meetbare impak sal hê op die vermindering van jeugwerkloosheid en die uitbreiding van maatskaplike beskerming.

Hy het gesê die beplande instelling van ’n staatspensioenskema vorder goed en word deur die VN-program ondersteun. ’n Werkloosheidsversekeringskema word ook binnekort ingestel. Vir dié planne sal ’n aantal wette volgende jaar gewysig moet word, insluitend die Arbeidswet en die wet op maatskaplike beskerming, het Nujoma aangekondig.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.