Die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) se maandelikse voedselprysindeks het op ’n gemiddeld van 120,6 punte vir Oktober gestaan – sowat 0,5% laer as in September.

Hierdie verlaging is ’n voortsetting van die onlangse afwaartse neiging van die indeks en is tot 14,8 punte (of 10,9%) laer as die indeks se waarde in die ooreenstemmende tyd ’n jaar vantevore.

Die effense afname in Oktober verteenwoordig verlagings in die pryse van suiker, graangewasse, kookolie en vleis, terwyl die indeks vir suiwelprodukte versterk het.

VLEIS

Die FAO se vleisprysindeks het op ’n gemiddeld van 112,9 punte in Oktober gestaan – ietwat laer as September (0,7 punte laer of 0,6% minder).

Dit is die vierde agtereenvolgende maand dat die prys daal en dit is ook 3,9 punte (3,4%) laer as ’n jaar gelede se indekswaarde.

In Oktober het internasionale varkvleispryse vir die derde agtereenvolgende maand gedaal, hoofsaaklik gedryf deur stadige invoere – veral vanaf sommige lande in Oos-Asië. ’n Groot hoeveelheid varkvleis wat beskikbaar is in van die wêreld se grootste uitvoermarkte vuur dié tendens verder aan.

Daarteenoor het wêreldpryse vir pluimvee verbeter terwyl voëlgriep oraloor die beskikbaarheid hiervan belemmer. Dit lei daartoe dat van die wêreld se grootste verskaffers van pluimveevleis nie vleis kan verskaf nie, terwyl die vraag daarna groot is omdat dit van die bekostigbaarste vleis is.

Die pryse van bees- en skaapvleis het ietwat gedurende Oktober gestyg. Dit as gevolg van die voortdurende, robuuste vraag na invoere van die vleis. Dit kom terwyl daar genoegsame bees- en skaapvleis beskikbaar is, veral uit lande soos Australië en Brasilië.

SUIWEL

Die FAO se indeks vir suiwel het op gemiddeld 111,3 punte in Oktober gestaan – sowat 2,4 punte (2,2%) meer as in September.

Dit volg ná nege maande waarin die indeks verlaag het. Die indeks is egter steeds 28 punte (20,1%) laer as ’n jaar gelede.

In Oktober het wêreldpryse vir poeiermelk die ergste stygings ervaar, hoofsaaklik gedrewe deur ’n groter vraag na invoere, veral uit die noordooste van Asië. Terselfdertyd het ’n tekort aan melk in Wes-Europa en onsekerheid oor die voorspelde El Niño-toestande in Oceania verdere opwaartse druk op pryse geplaas.

Die wêreldpryse vir botter het ook toegeneem as gevolg van groter verkope deur kleinhandelaars, voor die wintervakansie in westelike Europa en ’n hoër vraag daarna uit die noordooste van Asië. Daarteenoor het internasionale pryse vir kaas effens gedaal as gevolg van die voortgesette verswakking van die euro teenoor die Amerikaanse dollar.

SUIKER, OLIE

Die FAO se suiker-indeksprys het met 2,2% in Oktober verlaag, alhoewel die prysindeks steeds 50,6 punte sterker as verlede jaar dieselfde tyd gestaan het.

Die afname in Oktober is veroorsaak deur sterk produksiesyfers in Brasilië, ten spyte van die negatiewe uitwerking wat reën tydens die eerste helfte van Oktober op die pers van suikerriet gehad het.

Daarbenewens het die prysindeks vir kookolie op gemiddeld 120 punte in Oktober gestaan, dis sowat 0,7% laer as in September. Dit is ook die derde agtereenvolgende maandelikse daling van die indeks en tans is dit sowat 20,7% laer as ’n jaar vantevore.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.