Ellanie Smit – ’n El Niño-waarskuwing is vir suidelike Afrika uitgereik deur die Famine Early Warning Systems Network (Fews Net), met meer as 20 miljoen mense wat na raming ernstige vlakke van voedselonsekerheid in die gesig kan staar omdat hulle die grootste deel van die klimaatpatroon se nadelige gevolge kan dra.

Namibië is geïdentifiseer as een van 34 prioriteitslande wat ondersteuning benodig om die impak van die El Niño te versag.

Volgens Fews Net sal die El Niño na verwagting ’n ondergemiddelde reënseisoen vanaf Oktober tot Maart in baie gebiede oraloor die streek tot gevolg hê, wat waarskynlik sal veroorsaak dat oeste in 2024 onderpresteer. Weidingstoestande sal na verwagting vroeg in 2024 versleg, en hoër-as-gemiddelde veevrektes word in die tweede helfte van 2024 voorspel tot die begin van die 2024-’25-reënseisoen in Oktober.

’n Wisselvallige begin vir die reënseisoen sal na verwagting ook landbou-arbeidsgeleenthede verminder, terwyl bogemiddelde stapelvoedselpryse dit vir arm huishoudings moeilik sal maak om genoeg kos aan te skaf om in hul daaglikse behoeftes te voorsien.

HULP NODIG

Fews Net het skenkers en liefdadigheidsorganisasies gewaarsku om voor te berei vir hoë voedselhulpbehoeftes in Suider-Afrika.

Die voortslepende sterk El Niño-verskynsel, wat na verwagting aan die einde van 2023 sy piekintensiteit sal bereik en teen middel 2024 sal verdwyn, sal ondergemiddelde reënval oor ’n groot deel van die streek meebring, het hy gesê.

“Die negatiewe impak van El Niño gedurende die 2023-’24-reënseisoen sal na verwagting enige onlangse verbeterings van dalende inflasie teenwerk.”

Luidens die verslag word beraam dat meer as 20 miljoen mense voedselhulp sal benodig gedurende Januarie tot Maart 2024.

Namibië het geprojekteer dat die aantal mense in die land wat na verwagting voedselonsekerheid van Oktober 2023 tot Maart 2024 in die gesig sal staar, sal styg tot 695 000 – wat 26% van die bevolking is.

Van Julie tot September vanjaar het 579 000 mense in Namibië akute voedselonsekerheid in die gesig gestaar.

Verder sal die verwagte ondergemiddelde 2024-oeste vroeër as gewoonlik uitgeput wees, wat kan lei tot vergelykbare hoë voedselhulpbehoeftes aan die begin van die volgende maer seisoen aan die einde van 2024 en dui op selfs hoër behoeftes wanneer die maer seisoen vroeg in 2025 ’n hoogtepunt bereik, het Fews Net gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.