Ellanie Smit – Binne ’n tydperk van 10 maande is vee ter waarde van meer as N$54,2 miljoen gesteel. Hiervan is N$26,9 miljoen se vee teruggevind.

Volgens statistiek wat die polisie vir die tydperk tussen Junie 2022 en April vanjaar beskikbaar gestel het, is 2 681 gevalle van veediefstal landswyd aangemeld, met 12 807 stuks vee wat gesteel is en 4 285 wat teruggevind is.

Die streke met die hoogste veediefstalsyfers was Otjozondjupa (465), Hardap (323) en Omaheke (304).

Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Joseph Shikongo, het hierdie statistiek by ’n belanghebbersvergadering tussen die polisie en boere-unies gedeel.

Hy het gesê tussen Mei 2021 en Mei 2022 is altesaam 2 403 sake van veediefstal aangemeld waarin 10 984 stuks vee gesteel is en altesaam N$68,7 miljoen verloor is.

Hiervan is 4 647 stuks vee ter waarde van meer as N$14,8 miljoen teruggevind, terwyl 2 112 verdagtes in hegtenis geneem is.

Shikongo het beklemtoon die polisie sal nie misdadigheid duld nie en dat die hele polisiebestuur kennis geneem het van die toename in veediefstal.

Die vergadering was daarop gemik om onder meer die toenemende gevalle van veediefstal en die Memorandum van Verstandhouding met die Namibië Landbou-unie en die Namibiese Unie vir Opkomende Kommersiële Boere te bespreek.

Volgens Shikongo het hulle laas in Februarie vergader, waartydens verskeie kwessies rakende misdaad en sekuriteit van boere bespreek is.

“Ek is nie heeltemal seker of al die resolusies wat ons in daardie vergadering aangeneem het, geïmplementeer is nie. Daarom sal hierdie vergadering ’n geleentheid bied om ons verbintenis van die vorige vergadering te hersien en ook te hernu.”

Hy het gesê dit is slegs deur toewyding aan die programme en resolusies wat uiteengesit word dat hulle misdaad wat die landboubedryf raak, kan bekamp.

Shikongo het gesê hierdie vergadering is daarop gemik om misdade – wat die boeregemeenskap landswyd raak – te takel deur die landelike veiligheidstrategie in Namibië te bevorder en te implementeer.

“Dit bied ook ’n unieke skakelgeleentheid en ’n kans om die verhouding tussen die polisie en sy vennote te versterk terwyl ons gesamentlik poog om misdade in ons land en ons samelewing uit te roei.”

Hy het gesê veeboerdery word as ’n ekonomiese grondslag van kommunale en kommersiële boerdery beskou.

Wanneer misdade soos veediefstal gepleeg word, word die ekonomie van die land en die lewensbestaan van huishoudings, veral dié wat van boerdery afhanklik is, ernstig geraak, het Shikongo gesê.

Hy het gesê dit kan daarna die nasionale ekonomie in die algemeen raak, spesifiek weens verlore werksgeleenthede as gevolg van verlies aan inkomste.

“Landbou is een van die pilare van die nasionale ekonomie en in ag genome dat die polisie ’n mandaat het om eiendom te beskerm, is dit dus noodsaaklik dat boere en hul eiendom een van ons prioriteite word.”

Hy het gesê die bemanning van verkeerskontrolepunte is een van hul sleutelfokusareas om misdaad en veral veediefstal te bekamp deur die gesamentlike misdaadvoorkomingspogings te versterk.

Shikongo het gesê dit is dus belangrik om inligting oor veediefstal in ’n databasis te stoor om ’n verband tussen verskeie sake te vind.

Dit sal wetstoepassingsagentskappe en die regstelsel help om profiele van misdadigers te skep.

Om dié rede is daar ’n behoefte om die opstelling van die aanlyn polisiëringstelsel saam met die korrektiewe dienste en die howe te bespoedig, het hy gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.