Die Australiese Buro vir Meteorologie het sy Enso-uitkykstatus nou amptelik na ’n El Niño-waarskuwing verander.

Dit kom terwyl internasionale weervoorspellers sê die kans is nou sowat 70% dat ’n El Niño vanjaar nog sal vorm, wat bykans driemaal die normale waarskynlikheid is.

El Niño-toestande word vereenselwig met meer onvoorspelbare en dikwels swakker reënneerslae in Namibië.

“Die sentrale en oostelike oppervlaktemperature van die Stille Oseaan het nou soveel warmer geraak dat dit El Niño-drempels bereik het.

“Daarbenewens voorspel alle weermodelle wat die buro bestudeer het, dat die seetemperature verder sal warmer word en bo El Niño-drempels sal bly – ten minste tot dit lente is in die Suidelike Halfrond,” het die buro in hul jongste klimaatsopdatering Dinsdag bekendgemaak.

Voor ’n El Niño-weerverskynsel amptelik aangekondig word, moet bogenoemde drempels vir minstens drie maande lank gehandhaaf word.

Die buro sê sommige ander klimaatsaanwysers, soos die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI), dui egter ook op El Niño-toestande. Die SOI dien as ’n maatstaf vir die verhouding tussen seeoppervlaktemperature in die Niño-gebiede en oorhoofse weerstelsels.

“Tog werk winde, wolkvorming- en lugdrukpatrone daarop dat toestande in die Stille Oseaan asook die atmosfeer nog nie saamwerk vir die vorming van ’n El Niño nie.”

INDIESE OSEAAN OOK STROOMOP

Daarbenewens blyk dit dat die Indiese Oseaan-dipool (IOD) positiewe waardes in die winter kan bereik, wat beteken die see se oppervlaktemperatuur kan warmer as normaal raak.

Dit is ook nie goeie nuus vir Namibië se reënvooruitsigte nie, veral nie wanneer dit met ’n El Niño-weerverskynsel gepaardgaan nie.

Die onafhanklike landbouweerkundige, Johan van den Berg, het vantevore verduidelik wanneer die Indiese Oseaan se oppervlak warmer as normaal is en die IOD dus positief is, vorm dit sterk laagdrukstelsels of siklone.

“Dit reën dan baie daar waar die siklone vorm. Terselfdertyd onttrek dit die vog wat oor Namibië, Botswana en Suid-Afrika moes afkom in die rigting van die Indiese Oseaan,” het hy gesê.

DROOGTE

Dit kom terwyl satellietbeelde tans op kritieke droogtetoestande en ondergemiddelde plantegroei in die ||Kharas-, Omaheke-, Oshana-, Omusati- en Zambezistreek asook die grootste dele van die Kunene en die westelike dele van die Hardapstreek wys.

Volgens die weidingspesialis dr. Cornelis van der Waal het die jongste opname van weidingstoestande op 31 Mei aangedui dat baie van bogenoemde gebiede se droogtetoestande die hele reënseisoen lank voortgeduur het of vir lang tydperke geheers het, wat daartoe gelei het dat min weiding tans beskikbaar is.

Daarteenoor is die Khomasstreek, suidelike dele van die Oshikoto-streek en dele van die Kavango-Wesstreek groener as normaal vir die tyd van die jaar.

Van der Waal sê egter die produktiwiteit van plantegroei het tydens Mei in talle plekke in Namibië verbeter teenoor April.

“Tog is plantegroei in sekere dele van die land steeds ondergemiddeld terwyl die reënseisoen nou amptelik tot ’n einde gekom het,” het hy gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.