Ellanie Smit – Nuwe raadslede is vir die Vleisraad van Namibië aangestel.

Die aanstelling – die eerste kragtens die wet op die vleisbedryf en die wet op openbare ondernemingsbestuur – volg op die uittredende raad se twee termyne van altesaam ses jaar. Dié termyn moes eintlik in April 2020 geëindig het, maar is volgens Calle Schlettwein, die minister van landbou, water en grondhervorming, weens die pandemie verleng.

“Dit was moeilik om mense bymekaar te kry. Dit is nou die eerste keer dat ons ’n nuwe raad aanstel saam met hierdie twee stukke wetgewing. Ons probeer sodoende verseker dat die nodige verteenwoordigende aard van die raad – ingevolge die bestaande vleisbedryfwet – gehandhaaf word, en dat die nuwe bepalings van die wet op openbare ondernemingsbestuur ook nagekom word.”

Hy het bygevoeg hierdie twee stukke wetgewing bring nuwe verantwoordelikhede vir die raad mee.

“Ons is in die proses om die parlement te nader met ’n wysiging van die wet wat die nuwe raad se funksies sal verbreed. Ons het meer vleisprodukte ingesluit wat nou aan die wet op die vleisbedryf onderworpe is, soos pluimvee.”

LELIKE OORBLYFSEL

Die minister het gesê die kommersiële veesektor suid van die veterinêre kordonheining en ’n kommunale sektor noord van die heining lig die dualiteit van die ekonomie in die landbousektor uit.

Schlettwein het bygevoeg die skeuring tussen die kommersiële siektevrye veesektor en die kommunale sektor is ’n lelike oorblyfsel van die verdeel-en-bestuur-strategie van koloniale moondhede, wat getakel moet word.

Hy het gesê dit is een van die punte waarop die Vleisraad moet fokus om markgeleentheidvooruitsigte vir boere oraloor die land gelyk te maak.

Volgens hom bied veeproduksie ’n lewensbestaan vir ’n aansienlike deel van die Namibiese bevolking.

“Sowat 70% van die bevolking is direk of indirek by die landbousektor betrokke. Veeproduksie vorm die hoeksteen daarvan.”

Dit is dus in die openbare belang dat die veebedryf floreer, die nasie van voedsel voorsien en werk en gelyke ekonomiese geleenthede vir alle boere handhaaf, ongeag of hulle noord of suid van die heining is, het hy gesê.

‘GOEIE VORDERING’

Schlettwein het gesê hulle het vertroue in die nuwe raad, wat hy beskryf het as gebalanseerd met ’n magdom kennis en akademiese kwalifikasies.

Die nuwe raadslede is advokaat Lucia Hamutenya (voorsitter), Paul Klein (ondervoorsitter), dr. Jessy Kamwi, dr. Sartorius Von Bach, Rosalinda Katjivena (heraangestel), Julene Meyer (heraangestel), Annascy Mwanyangapo, Willem Nekwiyu, Patrick Liebenberg en Christopher Mberema.

Schlettwein het die uittredende raadslede bedank vir die goeie werk wat hulle gedoen het om die vleisbedryf se sake te bestuur.

“Ons het goeie vordering gemaak. Ons het die wet gewysig en ek glo ons het die stelsel verbeter, ondanks baie moeilike omstandighede met die droogte en Covid-19,” het hy gesê.

Die nuwe raad se termyn is vir drie jaar.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.