Die Namibiese prys van mielies en koring is die hoogste nog waaroor produsente verheug is, maar terselfdertyd sal rekordvlakpryse van ander kommoditeite soos fosfaat en ureum verdere stygings in lek, voer en kunsmis tot gevolg hê. Die wisselvallige, ongunstige wisselkoers en gereelde skerp brandstofstygings dryf pryse nog hoër.

’n Ongewone ontwikkeling was dat die Safex-prys vir mielies in Suid-Afrika die afgelope twee maande aansienlik opwaarts beweeg het. Normaalweg sak die prys namate oesinnames einde se kant toe staan, sê Elfrieda Roos, bedryfsbestuurder by Namib Meulens. “Dit het daartoe gelei dat die Namibiese witmielieprys op N$7 370 per ton te staan gekom het vir 30 Oktober tot 12 November. Die Namibiese prys word bereken op die Safex-prys, ’n vervoerprys (van Randfontein tot in Windhoek of Otavi) en ’n premie van 8% vir nie-GMO. Dit plaas Namibiese produsente in ’n beter posisie as hul Suid-Afrikaanse eweknieë.” Namibiese produsente voorsien in sowat 50% van die nasionale behoefte.

Intussen het die bemarking van koring op 1 November afgeskop met ’n rekordprys van N$8 328 per ton wat tot 14 November gegeld het, voeg Elfrieda by. Die Namibiese koringprys word afgelei van die Safex- en invoerpariteitprys wat die hoogte ingeskiet het. “Koring uit Suid-Afrika is vanjaar en verlede jaar die eerste keer goedkoper hier geland as uit Oos-Europa. Dit is die gevolg van internasionale marktendense, hoofsaaklik weens die Russe se oorlog in Oekraïne,” voeg Elfrieda by.

[Bron – AgriForum Namibia]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.