Kan daar iets lekkerder wees as ’n sappige skaaptjoppie wat op ’n Sondag oor die kole sing? Of beesstert wat op ’n koue wintersdag vir ure in rooiwyn gekook het?

Een ding is vir seker, ons Suid-Afrikaners hou van ons vleis. Biltong, kruisskuif, ribbetjies of ’n hamburgerpattie en met feestyd om die draai gaan baie van ons etenstafels kreun.

Die debat oor of, en hoeveel, rooivleis vir ’n mens gesond is, woed al vir dekades, maar nuwe navorsing toon dat meeste van die vorige navorsing “lui” is en dat daar verskeie ander faktore in ag geneem moet word.

Vorige navorsing het getoon ’n oormaat van rooivleis kan lei tot gesondheidsprobleme soos hartsiektes, beroertes en kanker, maar navorsers van die Washington Universiteit het bevind dat die meeste studies verwarrende veranderlikes bevat soos dat party vleiseters net eenvoudig minder groente eet, meer rook of minder oefen. Mense kan ook nie met redelike sekerheid bepaal hoeveel vleis hulle in ’n bepaalde tyd geëet het nie.

“Ons het bevind dat die bewyse en verband tussen rooivleis en kanker, borskanker, tipe twee diabetes en hartsiekte te vaag is. Ons het ook geen bewyse gekry dat rooivleis beroertes veroorsaak nie,” lui die navorsing.

Volgens die navorsers is daar min tot geen bewyse van gesondheidsrisiko’s as jy op ’n gereelde basis rooivleis inneem nie.

“Daar is nie so iets soos ongesonde kos nie, maar party kossoorte moet in mindere hoeveelheid ingeneem word,” sê Petro Groenewald, ’n dieetkundige.

“Rooivleis bevat belangrike voedingstowwe soos soos proteïen, vitamien B12 en yster.”

Volgens Petro is rooivleis noodsaaklik vir ’n gebalanseerde dieet.

“Dit is jou hoofbron van yster, kalsium en belangrike vitamine soos B12. Dit is ook ons hoofbron van hoëgehalte-proteïne wat jou immuunstelsel versterk.”

Volgens haar is dit egter nodsaaklik om te reguleer hoeveel vetterige vleis jy inneem.

“Rooivleis bevat goeie vette wat cholesterol kan verlaag, maar daar is ook versadigde of slegte vette wat jou cholesterol kan verhoog. Hierdie soort vette stol gewoonlik teen kamertemperatuur en is gewoonlik die vet wat jy aan jou tjoppie of kruiskyf aantref.

“Die slegte vette is die groot oorsaak vir gesondheidsrisiko’s soos borskanker en hartsiektes.”

Sy meen dit is ook beter om wildsvleis of volstruisvleis in te neem omdat dit baie minder vet bevat en hierdie soort diere meer aktief is as jou gewone skaap of bees.

“Reguleer ook jou vleisinname. Dit is eintlik ideaal om slegs vier keer per week vleis te eet. So kry jy al die voedingstowwe en vitamiene wat jou liggaam nodig het, in. Eet byvoorbeeld die ander drie aande witvleis soos hoender of vis.”

[Bron – Die Waarheid]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.