Ná ‘n drastiese afname in toerismesyfers ná die uitbreking van die Covid-19-pandemie, het Namibië 270 644 besoekers uit die buiteland in 2021 aangeteken – ‘n aansienlike toename van 40% vergeleke met 192 026 die vorige jaar.

Intussen het die aantal toeriste wat Namibië in 2021 besoek het tot 232 756 toegeneem, 37,3% hoër as die vorige jaar se 169 565.

Dié syfers is Maandag deur die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, aangekondig toe hy die Toerismestatistiekverslag vir 2021 bekend gestel het.

Die verslag het aangedui van die 270 644 buitelandse aankomste in Namibië verlede jaar, het toeriste 86% van dié totaal uitgemaak, gevolg deur dagbesoekers met 10,6%, terwyl terugkerende besoekers vir 0,9% en ander kategorieë onderskeidelik vir 2% en 1,5% verantwoordelik was.

Die grootste aantal besoekers in 2021 was van Suid-Afrika (109 303), Duitsland (21 919), Zimbabwe (18 778), Zambië (16 427) en Botswana (9 455).

Luidens die verslag het oorsese aankomste van toeriste in 2021 ‘n toename van 17,9% vanaf 2020 getoon. Hierdie groep het 30,1% (70 074) van die totale aankomste uitgemaak.

SLEUTELMARK

“Die Afrika- en Europese markte het noemenswaardige groei vanaf die vorige jaar getoon – ‘n verandering van 45,2% en 29,7% in vergelyking met 2020.

“Noord-Amerika was verantwoordelik vir 0,2% minder aankomste van toeriste vergeleke met verlede jaar. Wat 2021 betref, het die Afrikamark sowat 69,9% van die totale aankomste van toeriste na Namibië gebring – waarvan die meeste van SADC-lande afkomstig was. Europa, aan die ander kant, het vir 25,3% van aankomste gesorg,” lui die verslag.

Die statistiek het verder getoon dat Suid-Afrika ‘n sleutel-Afrikamark vir Namibië gebly het, wat vir sowat 47% van die totale aankomste van toeriste in 2021 gesorg het.

“Angola, wat gewoonlik deel vorm van die top-Afrikalande wat bydra tot aankomste van toeriste in Namibië, het nie vanjaar die lys gehaal nie ná die land se grense gesluit is met die doel om die Covid-19-pandemie te bekamp.”

Boonop was daar ‘n toename in die gemiddelde aantal verblyfdae in Namibië – van 19 dae in 2020 tot 24 verlede jaar.

TOEGANGSPUNTE

Die grootste deel van aankomste van toeriste was deur die Internasionale Lughawe Hosea Kutako – wat 37,7% van die totaal uitmaak – terwyl 34,2% deur suidelike grensposte gekom het.

Reis per voertuig was steeds die gewildste aangesien toeriste hoofsaaklik van dié reismetode gebruik maak wanneer hulle Namibië binnekom – met ongeveer 57,5% van die totale aankomste wat padlangs was.

Aan die ander kant het reis per vliegtuig 42,3% van aankomste uitgemaak. Airlink (50,1%), Ethiopian Air Airlines en Eurowings (10,7%) was die groot lugrederye wat toeriste na die land gebring het. Slegs 0,2% van toeriste het per see aangekom.

Air Namibia het 0,2% van die totale toeriste in 2021 ingebring voordat sy bedrywighede gestaak is en die redery gevolglik gelikwideer is.

Shifeta het gesê hoewel die aantal aankomste van toeriste nie op die vlak is wat dit voor die pandemie in 2019 was nie, bring ‘n toename soos hierdie hoop dat die sektor op die herstelpad is.

Voorspellings dui daarop dat sowat 509 456 aankomste uit die buiteland vir vanjaar verwag kan word, met 423 733 wat uit toeriste sal bestaan.

GETEIKENDE INGRYPINGS

Die ministerie het ‘n toerismeherstelplan ontwikkel wat ‘n raamwerk vir die herstelproses in dié sektor vir die volgende drie jaar uiteensit, het hy gesê.

Die plan verskaf geteikende beleidsingrypings, programme en aktiwiteite om die bedryf te herstel en te ondersteun.

Shifeta het gesê in die verlede het Namibië op internasionale reisigers staatgemaak, maar hulle het die afgelope jare uit ondervinding geleer dat binnelandse toerisme gelyke aandag en prioriteit moet geniet om ongewenste invloede van krisisse soos dié wat deur wêreldwye pandemies veroorsaak word, tot die minimum te beperk.

Hy het ook die belangrikheid daarvan beklemtoon om goeie kliëntediens op alle dienspunte te lewer, en bygevoeg die toerismebedryf sal niks daarsonder wees nie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.