Terwyl die Namibië Houtskoolvereniging (NCA) onlangs sy naam amptelik na die Charcoal Association of Namibia (Caon) verander het, bied die vereniging ook verskeie opleidingsgeleenthede oor die volgende maande vir produsente.

Op 2 en 3 Augustus word teoretiese en praktiese opleiding oor brandbestryding by die Otjiwa Safari Lodge aangebied.

Tydens die teoretiese sessie sal produsente aan brandbestrydingstegnieke, spesifiek gerig op plaaslike omstandighede bekend gestel word. Spanne van die Namibiese polisie asook die weermag sal deel van die opleiding vorm.

Op die tweede dag sal praktiese opleiding aangebied word saam met die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme se direktoraat van bosbou – onder leiding van die direktoraat se adjunkdirekteur Michael Otsub, asook die Otjiwarongo-brandweerspan se Frans Holtzkampf.

Terselfdertyd sal die vereniging op 2 September hul jaarvergadering hou, terwyl daar op 2 en 3 September ook ‘n mini-ekspo oor houtskool by die Otjiwa Safari Lodge aangebied sal word. Tydens die geleentheid sal Coan van sy jongste tegnologie demonstreer en ʼn wye verskeidenheid uitstallers sal ook op die ekspo te sien wees.

Dit volg nadat Caon op 19 Julie sy prototipe begin bekend stel het, wat die rook uit kilns “oes” en dan ʼn waardevolle houtsuurmengsel produseer. Die mengsel kan gedistilleer word om houtasyn te produseer.

Tydens die geleentheid is ʼn opleidingsessie oor biochar aangebied en gedemonstreer hoe biochar, houtasyn, kompos en ander organiese materiaal soos bees- of hoendermis gebruik kan word om die gehalte van grond te verbeter. Daar is ook gewys dat houtasyn as plaagdoder of bemesting vir verbeterde plantgesondheid en groei gebruik kan word.

WAAKSAAM

De vereniging se bestuurder, mnr. Michael Degé, het onlangs aan Republikein gesê hulle is vanjaar strenger as ooit tevore as dit by die voorsorgmaatreëls teen brande kom en daar ook “streng opgetree” sal word teen produsente wat in enkeloonde verbranding doen wat verspreid rondstaan.

Dienooreenkomstig maak die vereniging ook erns van die saak om produsente in brandbestryding op te lei.

Hy het ook gesê die houtskoolbedryf kry tans swaar, veral met die brandstofprys en ander insetkoste wat die hoogte ingeskiet het, terwyl hulle nog steeds dieselfde vir hul produk betaal word.

“Die prys het oor die afgelope drie jaar gestagneer en daar is geweldige druk op die bedryf,” het Degé gesê.

“Die mense daar buite besef nie dat produsente houtskool produseer om te oorleef nie. Hulle doen die land ook ʼn guns, want hulle help met ontbossing,” het Degé gesê.

Die houtskoolbedryf bied ook werk aan duisende Namibiërs – en algaande meer vroue.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.