Ofskoon Meatco onlangs “stormagtige” jare met “diep onsekerhede” agter die rug het, het hul vleisuitvoere in die eerste ses maande van die jaar sterk herstel getoon.

Boonop het dit tot dusver reeds 12 000 beeste méér as dieselfde tyd verlede jaar geslag.

Meatco se uitvoerende hoof, mnr. Mwilima Mushokabanji, het die afgelope week in ’n eksklusiewe onderhoud met Agri Monitor gesê die onderneming is “stroomop” en “stroomaf” erg oor die afgelope twee jaar geraak. Die onderneming het met die hulp van vernuwing, oorleef

Dit het gehelp om agterstallige betalings aan produsente in te haal, sê hy, terwyl Meatco al sy “ou skuld” aan ’n bank kon vereffen en markte kon diversifiseer.

Markte word ook tans gediversifiseer.

“In die verlede het ons alleenlik staatgemaak op een mark – Europa. As deel van ons strategie diversifiseer ons ons markte – ons het nou ook toegang tot die Chinese markte asook Amerika.

“Dit om seker te maak Meatco het die nodige veerkragtigheid en beskik oor ’n buffersone wanneer dit nodig raak.”

Hy sê dit is uiters moeilik om hierdie markte te betree en daarom bly Namibië die enigste Afrikaland met ’n openbare onderneming soos Meatco, wat toegang hiertoe het.

UITDAGINGS

Mushokabanji het verduidelik dat Namibië se beesbedryf oor die afgelope twee jaar tegelykertyd deur talle kwessies geraak is, wat insluit die nagevolge van 2019 se droogte, veesiektes in die noordelike kommunale gebiede soos longsiekte en bek-en-klouseer, veldbrande wat noodsaaklike weiding verwoes het, asook die Covid-19-pandemie.

Al hierdie faktore het Meatco se verskaffingsketting belemmer, want dit het tot ’n vermindering in veegetalle gelei.

“Om alles te kroon is afsetlande soos China en Amerika eerste of erg deur die Covid-19-pandemie geraak,” het Mushokabanji gesê.

“China het inperkingsmaatreëls vir die pandemie ingestel, wat onder meer behels het dat winkelgroepe en restaurante moes toemaak. Ons produkte kon nie die land binnegaan nie,” het hy verduidelik. “Boonop is Europa ook erg deur die pandemie geraak.”

STABILISEER

Die pandemie het gevolg op ’n onlangse droogte in Namibië, wat reeds hoofbrekens vir Meatco veroorsaak het.

“In 2019-’20 het ons sowat 116 000 beeste geslag omdat daar ’n droogte was en produsente aangeraai is om hul kuddes kleiner te maak,” het Mushokabanji verduidelik.

“Ons rol is om die bedryf te stabiliseer. Ons het ’n keuse gehad of ons die produsenteprys wou laat styg of nie – want ons het ’n monopolie en daar was ’n groot behoefte onder produsente om van hul vee ontslae te raak.

“Ons het egter aan die lang termyn gedink en besef ons kan dit nie doen nie. Ons het wel besluit om die boere op so ’n manier te dien sodat hulle kan oorleef, maar Meatco moes ook oorleef.

“Die opeenvolgende twee boekjare 2020-’21 en 2021-’22 het ons swaar gekry, want daar was nie beeste om te slag nie. Ons het toe gemiddeld 35 000 beeste per jaar geslag.

“Om ’n vleisverwerkingsaanleg soos Meatco te kan bedryf, moet ons ten minste 60 000 beeste kan slag. Dus, as jy net 35 000 beeste slag, het jy nie ’n besigheid nie. Daarom was mense van mening dat Meatco sy deure moet sluit,” sê Mushokabanji.

Dit is hier waar die regering se “reddingsboei” ter sprake gekom het.

“Toe ons uit die stormagtige tyd, met diep onsekerhede, gekom het, moes ons seker maak ons maak aanpassings en seker maak ons begin ’n meer mededingende strategie vir Meatco.

“Ons het ook na die regering uitgereik vir geld wat ons nodig gehad het. Die geld is daar om nuwe lewe in ons goedgekeurde strategiese, geïntegreerde sakeplan vir die volgende vyf jaar te blaas,” het hy verduidelik oor die N$200 miljoen wat die onderneming onlangs van die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) bekom het.

UITKOMS

“Die goeie nuus is egter – oor die afgelope twee jaar het boere nie net teruggesit nie – hulle het die nasionale beeskudde herbou. Daar is beeste beskikbaar. Dienooreenkomstig kan ons ook beter reageer op die sterk vraag na ons produkte in ons markte,” het hy verduidelik.

“Tot dusver vanjaar het ons 25 000 beeste geslag. Dieselfde tyd verlede jaar het ons nog net 13 000 beeste geslag.

“Daarom was daar ’n toename in die hoeveelheid vleis wat ons oor die afgelope maande kon uitvoer.”

Volgens die Vleisraad van Namibië was daar oor die afgelope ses maande ’n beduidende toename in beesvleisuitvoere.

In hul nuusbrief van 29 Julie word daar aangedui dat beesvleisuitvoere jaar-op-jaar met 98% gegroei het en op 5 100 ton te staan gekom het.

INKLUSIEF

Mushokabanji sê Meatco is tans werksaam in ’n heel ander ruimte as byvoorbeeld vóór die land se onafhanklikwording en moet hierby aanpas.

“Die regering is ook tevrede daarmee dat Meatco meer inklusief werk – en alle produsente wil insluit. Ons kan nie ’n openbare instelling wees en net produsente suid van die VCF dien nie,” het hy gesê oor die onderneming se betrokkenheid in die noordelike kommunale gebiede (NCA).

Sedert die uitvoerabattoir in Katima Mulilo onlangs met sy werksaamhede begin het, is vleis vir die eerste keer sedert onafhanklikwording vanaf die NCA na Ghana en Angola uitgevoer. Terselfdertyd word Rundu-produsente met ’n mobiele slageenheid bedien, terwyl die abattoir op die dorp opgeknap word.

PRODUSENTEPRYSE

Terwyl produsentepryse oor die afgelope maande ietwat gedaal het, verduidelik hy dat hul prysstrategie vir produsente deur markkragte beheer word.

“As ons markte – Europa, China, Amerika en Afrika – goed presteer, dan kan ons meer aan produsente betaal. Ons moet dit egter aanpas soos die markte verander. Midde die aanpassings, maak ons altyd seker dat plase steeds winsgewend bly.”

“Ons betaal steeds beter as sommige abattoirs in ontluikende markte. Ons is dus nog steeds baie mededingend,” het hy bygevoeg.

Hy het ook gesê Meatco is tans betrokke in gesprekke met produsente oraloor die land om Meatco se visie met hulle te deel.

Hy sê Meatco die beste opgeleide en toegewyde personeel met uitstekende ervaring werf om sy mandaat te kan uitvoer.

“Ons het die beste breine hier nodig, want ons moet ‘globaal’ dink en ding mee met ontluikende en gevorderde wêreldmarkte.”

Hy het bygevoeg dat sommige faktore, soos meer gereelde droogtes asook die voorkoms van veesiektes, deur aardverhitting vererger kan word.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.