Die uitreiking van gesondheidsertifikate vir die uitvoer van beeste op die hoef na Suid-Afrika, is Vrydag met onmiddellike effek deur die direktoraat veeartsenydienste (DVS) opgeskort.

’n Kennisgewing hieroor is gistermiddag deur ‘n woordvoerder in die ministerie van landbou, water en grondhervorming aan joernaliste gestuur, hoewel dit nog nie deur die hoof- veterinêre beampte, dr. Albertina Shilongo, onderteken is nie.

Die opskorting volg nadat Suid-Afrika se minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkelinge, me. Thoko Didiza, Dinsdag ’n algehele verbod op die beweging van beeste afgekondig het in ’n poging om die talle bek-en-klouseer-uitbrekings in die land onder beheer te bring.

Die Suid-Afrikaanse voerkraalbedryf is Namibië se grootste mark vir lewende speenkalwers. Namibië bevind hom nou midde die speenkalf-veilingseisoen en tienduisende speenkalwers word maandeliks op beeslorries na Suid-Afrika uitgevoer.

Mnr. Hannes Jacobs, ’n prokureur van Pretoria, het verlede week in opdrag van verskeie belanghebbendes in die Suid-Afrikaanse beesbedryf, ’n prokureursbrief aan Didiza gerig en beswaar gemaak omdat die meeste afslaersmaatskappye, die Bek-en-klouseer-forum (FMD-forum) en verskeie ander belanghebbendes nie in die besluitneming geken is nie, berig Netwerk24.

Daarin is ook oor swak grensbeheer tussen Suid-Afrika en onder andere Namibië gekla. “Die grense met Botswana en Namibië word nie gemonitor en ook nie gesluit om die verspreiding van die siekte te voorkom nie,” is in die brief aangevoer.

Die verbod is as irrasioneel beskryf omdat dit net beeste uitsonder terwyl ander diere met gesplete hoewe ook die virus kan versprei, lui die berig.

Jacobs sê in die brief sy kliënte vra dat die bewegings van alle vee verbied word, dat daar behoorlike grensbeheer toegepas word en dat behoorlike biosekerheidsmaatreëls by voerkrale en abattoirs afgedwing word.

UITVOERE OP DIE HOEF

Volgens die Vleisraad van Namibië is 68 429 beeste tydens die tweede kwartaal vanjaar bemark. Hiervan is 38 290 op die hoef na Suid-Afrika en ander buurlandse soos Angola, Botswana, Zambië en

Zambië uitgevoer, terwyl 23 880 by uitvoergoedgekeurde abattoirs en 6 259 by B- & C-klas abattoirs bemark is.

Die Suid-Afrikaanse voerkraalbedryf is reeds jare lank die grootste mark vir Namibiese speenkalwers.

Volgens die Vleisraad is 150 480 speenkalwers in 2020 na Suid-Afrika uitgevoer.

Nog Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad, nog Thinus Pretorius, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), kon gistermiddag vir kommentaar bereik word. Laasgenoemde is tans op besoek aan Angola.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.