Die uitwerking van die huidige reënseisoen se wisselvallige neerslae wek kommer.

’n Goeie reënseisoen begin op die regte tyd, is goed oor die seisoen versprei en voorsien eindelik in die grond se behoefte na water, hervul waterhulpbronne en herstel weiding.

Só sê AgriBank se Erastus Ngaruka, tegniese adviseur vir lewende hawe en weidingstoestande. Hy sê wisselvallige reën veroorsaak probleme vir landbouprodusente as dit by hul gewasse en vee kom, wat insluit vloede, modder wat diere vasvang, peste en siektes wat uitbreek asook weerlig wat skade veroorsaak.

“Dit is ’n groot uitdaging vir die gesondheid en voeding van vee en sal ook hul produktiwiteit en oorlewing beïnvloed. Boere moet bewus van hierdie uitdagings wees en versagtende maatreëls toepas,” sê Ngaruka.

Sy waarnemings stem ooreen met die van die weidingskundige, dr. Cornelis van der Waal, wat gesê het satellietdata wys dat weidingstoestande aan die begin van Januarie steeds gemiddeld tot ondergemiddeld oor die groter dele van die land was, met sommige dele in die Kunene-, Omusati- en Oshanastreek wat ver ondergemiddeld was. Dit kom ná weidingstoestande in November aanvanklik bogemiddeld was, maar ’n droogte in die middel van die seisoen die agteruitgang van die weiding veroorsaak het.

Alhoewel weerstoestande aansienlik in die laaste week van Januarie begin verbeter het, bly die wisselvalligheid van die reën ’n uitdaging.

Volgens Namibië se vroeë waarskuwingstelsel vir weidingstoestande op die webwerf namibiarangelands.com, was die situasie nog onveranderd tussen 11 en 20 Januarie.

“Hierdie gebiede moet versigtig gemonitor word en voorbereidings vir droogte moet opgedateer word, ingeval die situasie vererger, het Van der Waal vroeër vanjaar gesê.

“Tans is plantegroei ondergemiddeld in die sentrale, noordelike en noordwestelike dele van die land. Die ooste en noordooste is nog bogemiddeld, maar die produktiwiteit het getaan ná dit ’n hoogtepunt in November bereik het,” het hy bygevoeg.

Ander gebiede waar weidingstoestande nog ondergemiddeld was, is die Khomas-, sentrale dele van die Hardapstreek, westelike Otjozondjupa-, oostelike Erongo- en die grootste dele van die Kunenestreek.

PESTE EN SIEKTES

Ngaruka sê die reënseisoen bring ook siektes en peste – met die noordelike streke van die land wat oor die afgelope jare gedurig kommandowurmplae getrotseer het, terwyl sprinkaanplae suidelike streke meer onlangs geteister het.

“Gewasboere verloor hul oeste weens hierdie wurms en veeboere in die suide is hul weiding kwyt oor die sprinkane,” sê hy. “Daarbenewens kom baie veesiektes tydens die reënseisoen voor, wat insluit vrotpootjie, sweetsiekte, galsiek en knopvelsiekte.”

Hy het verduidelik dat nat toestande van dié siektes bevorder, terwyl ’n groter voorkoms van bosluise vir ander siektes verantwoordelik kan wees. Hy het voorgestel dat veeboere middels teen bosluise en ander parasiete moet gebruik.

Hy waarsku spesifiek teen Kongokoors, wat deur sommige bosluise oorgedra kan word en waarvoor mense ook vatbaar is.

“Oor die afgelope jare het gevalle van Kongokoors in die land voorgekom. Dit is ’n dodelike virussiekte,” sê hy.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.