Meatco se jaarvergadering op 30 September op Otjiwarongo kon nie daarin slaag om produsente-onsekerheid uit die weg te ruim nie. Daarby is min lig gewerp op die pad vorentoe, sê NLU-president Pieter Gouws. Hy het wel genoem dat die vergadering ordelik was en in ‘n goeie gees plaasgevind het.

Nuwe nuus was dat die N$200 miljoen wat Meatco in Julie vanjaar van die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) bekom het om produsente en skuldeisers te betaal deur die regering as ‘n Meatco-vennoot voorgeskiet is. Meatco moet net sesmaandeliks die rente daarop betaal waarvoor ‘n jaar uitstel gegee is tot Julie 2023.

Die mosie van produsent Peter Zensi aan die Meatco-direksie dat ‘n spesiale ledevergadering oor vier maande gehou moet word om terugvoer oor Meatco se bedenklike finansiële situasie te gee is eenparig aanvaar. Volgens dié mosie moet:

• Onafhanklike internasionale kundigheid ingespan word om ‘n evaluering te doen van die Meatco-direksie en -bestuur se doeltreffendheid, gemeet aan ‘n internasionaal mededingede vleisverwerkings- en bemarkingsaanleg (bekend as GAP analyses). (In dié verband het Meatco se hoof finansiële beampte op die jaarvergadering gewys op ‘n onafhanklike konsultant wat aangestel is om Meatco se sakemodel te hersien en te versterk.)

• DBN-skuld moet terugbetaal word.

• ‘n Waarborg van betaling aan produsente minstens ‘n jaar vooruit gegee word; dit is die enigste manier om vertroue in Meatco te herstel sodat boere weer hul diere hier kan slag.

‘n Tweede mosie van Konrad Traeger “om vertroue en deurset by Meatco te herstel” is met ‘n oorweldigende meerderheid aanvaar waarvolgens produsente vergoed moet word vir hul finansiële verliese weens kontrakbreuk (laat betalings waarop rente verdien kon word of nuwe beleggings in boerdery gemaak kon word). Dit moet voor die einde van Meatco se huidige boekjaar (einde Januarie 2023) gebeur. Die Meatco-bestuur se aanduiding per e-pos aan sommige produsente was dat vergoeding vir finansiële verliese gaan plaasvind. Die Meatco-direksie is ook versoek om bankwaarborge vir betaling aan produsente te gee op die dag van aflewering. Voorts is deursigtigheid by Meatco bepleit en die deurgee van inligting oor probleme (bv. finansies) aan produsente.

Intussen het Meatco-produsente met groot afwagting uitgesien na terugvoer van die minister van finansies, Iipumbu Shiimi, waarvoor die vergadering effe vertraag is. Nie die minister of die goewerneur van die Erongo-streek het opgedaag nie.

Mosies van die kommunale boere het nie gedien nie omdat die voorsteller en sekondant nie teenwoordig was nie.

[Bron – AgriForum Namibia]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.