Die landbousektor verbruik sowat 75% van die land se water, met die kommersiële landbousektor wat die grootste verbruiker is en kommunale boere die minste gebruik.

Só het Calle Schlettwein, die minister van landbou, water en grondhervorming, gesê by die herdenking van Wêreldvoedseldag wat by die dorpie Kayova in die Ndiyona-kiesafdeling in die Kavango-Oosstreek gehou is.

Abraham Nehemia, die uitvoerende hoof van NamWater, het die minister se toespraak namens hom voorgelees.

Die dag is herdenk onder die tema “Water is lewe, water is kos. Laat niemand agter nie”.

Schlettwein het gesê die tema beklemtoon die noodsaaklikheid van water wêreldwyd as ’n dryfveer vir mense, ekonomieë, die natuur en die grondslag van voedsel.

GROTER VRAAG

Hy het gesê dit verhoog ook begrip oor die wyse gebruik en volhoubare bestuur van hierdie waardevolle hulpbron.

“Die vraag na water in die wêreld, en veral vir Namibië, het toegeneem en sal steeds oor die komende dekades styg as gevolg van bevolkingsgroei, sosioëkonomiese ontwikkeling en die vraag na voedselproduksie.”

Schlettwein het gesê 2,4 miljard mense woon in lande met waterprobleme, waarvan baie kleinboere is wat reeds sukkel om in hul daaglikse behoeftes te voorsien.

“Terwyl ons hierdie dag herdenk, word ons daaraan herinner dat ons meer voedsel en ander noodsaaklike landboukommoditeite met minder water moet produseer terwyl ons verseker dat water eweredig versprei word.”

UITDAGING

Hy het gesê Namibië se reënvalpatrone is hoogs veranderlik en uiters onvoorspelbaar, wat waterhulpbronbestuur ’n ernstige uitdaging maak.

Hy het gesê Namibië is hoogs kwesbaar vir die gevolge van klimaatsverandering en is natuurlik vatbaar vir droogtes en vloede.

“Ons worstel weer vanjaar met droogtetoestande weens onvoldoende reënval gedurende die 2022-’23-reënseisoen.”

Schlettwein het gesê die oorkoepelende kwessie van watervoorsiening wek groot kommer oor baie streke van die land. Gevolglik het baie reënwateropvanggebiede water beperk terwyl ander heeltemal opgedroog het.

Plaaslike kommunale landboupraktyke is baie afhanklik van reën, wat die afgelope paar jaar ’n uitdaging geword het weens die wisselvalligheid en skaarsheid daarvan.

“Ons moet verder die toenemende druk op ons varswaterbronne ten volle verstaan om hierdie kritieke hulpbron tot voordeel van almal te kan beskerm. As ons die vraag na water buite verhouding met die beskikbare waterbronne benut, loop ons die risiko om ons hulpbronne vinniger uit te put as wat verwag word.”

STAPPE GEDOEN

Hy het gesê gedurende die 2022-’23-boekjaar is 21 boorgate in die Kavango-Oosstreek geboor.

Vanjaar, tussen Maart en Junie, is 18 boorgate met waterpunt-infrastruktuur geïnstalleer, terwyl drie boorgate in die Kavango-Oosstreek gerehabiliteer is om stabiele watervoorsiening vir die plaaslike gemeenskap te verseker.

Twee kort pyplyne is ook gedurende dieselfde tydperk in die Rundu-landelike en Mashare-kiesafdeling gebou.

Boonop is die regering besig om twee mini-ontsoutingsaanlegte in die Mashare-kiesafdeling by die Mukuni-Shighuru- en Vikota-waterpunte te installeer om betroubare, drinkbare water vir die landelike gemeenskappe te verseker.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.