Tot onlangs was Namibië een van net twee Afrikalande waar die registrasie van SIM-kaarte nie verpligtend was nie.

Ná die besluit geneem is om dit verpligtend te maak, het vrae oor die veiligheid van sensitiewe en persoonlike inligting ontstaan.

Mnr. Tim Ekandjo, die hoof van menslike kapitaal, korporatiewe en bemarkingsbeampte van MTC, het gesê om toegang tot vertroulike inligting te verkry, is ’n hofbevel nodig.

’n Regter van die hoërhof sal ’n aansoek, wat slegs deur die polisie ingedien kan word, oorweeg en daarvolgens besluit.

Die minister van inligting en kommunikasietegnologie, dr. Peya Mushelenga, meen die besluit sal dit makliker maak om die meer as 2 miljoen mobiele intekenaars teen bedrog te beskerm en dienste soos onder meer mobiele finansiële geriewe te vergemaklik.

“Dis misleidend om te sê dat SIM-gebruikers ná die registrasie van SIM-kaarte gemonitor sal word. Onderskepping is slegs moontlik na die aanmelding van ‘n beweerde misdaad aan die relevante wetstoepassingsowerhede,” het Mushelenga tydens die SIM-registrasieveldtog gesê.

Die Suid-Afrikaanse Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie (Rica) het sedert sy implementering kritiek oor die registrasie van selfoonnommers aan valse identiteite uitgelok.

Die uitvoerende hoof van die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran), me. Emilia Nghikembua, het die kritiek verwerp.

Nghikembua ontken dat massa-onderskeppingstelsels of filters geïmplementeer sal word.

“Lasbriewe sal op individuele basis deur regsbeamptes oorweeg word,” sê sy.

REGISTRASIEPROSES

Tydens die oorgangstydperk – wat vanaf 1 Januarie tot 31 Desember 2023 duur – word daar van alle huidige gebruikers verwag om hul SIM-kaarte te registreer.

Nuwe SIM-kaarte sal tydens die kooptransaksie geregistreer word.

“Kliënte moet ’n afskrif van hul identiteitsdokumente, asook ’n bewys van adres toon wanneer hulle ’n SIM-kaart registreer,” het Nghikembua gesê.

Indien ’n bewys van adres nie moontlik is nie, soos in die geval van inwoners van informele nedersettings, sê sy dat enige ander adres soos die van ‘n skool of kerk wat die persoon gereeld besoek, gebruik kan word.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.