58553

Ná die komende reënseisoen kan La Niña-toestande, wat reeds oor die afgelope drie jaar ʼn houvas op wêreldwye weerpatrone het, sy greep begin verloor.

Dit kan dan plek maak vir meer neutrale of El Niño-tipe toestande.

Gemiddelde tot bogemiddelde reën word egter nog vanaf November vanjaar verwag, het die onafhanklike landbouweerkundige, mnr. Johan van den Berg, in sy jongste weervooruitskouing gesê.

“Volgens huidige vooruitsigte kan ’n meer permanente verswakkende fase vanaf Januarie 2023 intree om die einde van huidige La Niña-toestande aan te dui, wat reeds oor die afgelope drie jaar geheers het.”

“Langer termyn tendense dui daarop dat die reënseisoen van 2023 tot 2024 in alle waarskynlikheid ʼn neutrale jaar sal wees. Daarna kan ʼn reeks El Niño- of neutrale toestande vanaf die 2024-’25-seisoen tot die 2027-’28-seisoen, of selfs langer, voorkom,” het hy gesê.

Die feit dat La Niña-toestande na verwagting vir die derde agtereenvolgende jaar kan heers, is uitsonderlik.

“Dit sal die derde keer sedert 1950 wees dat ʼn drie jaar lange fase van opeenvolgende La Niña-toestande heers – dit het ook van 1973 tot 1976 en van 1998 tot 2001 gebeur.

“Daar was ook ʼn La Niña-fase wat naby aan drie jaar gekom het tussen 1954 tot aan die einde van 1956,” het Van den Berg gesê.

’n La Niña-weerverskynsel word meestal met natter as gewoonlike toestande oor Suider-Afrika vereenselwig, terwyl El Niño-toestande reënneerslae onvoorspelbaar maak.

In 2019 het een van die sterkste El Niño-weerverskynsels op rekord, tot een van die ergste droogtes op rekord in Namibië gelei.

KORT TERMYN

Van den Berg sê wat Namibië betref, word daar nie veel meer reën vir die res van die winter en tot in die lente verwag nie.

“Namibië se temperature sal vandeesmaand meer matig raak, alhoewel kortstondige tydperke van erge koue weer nog tot in Augustus kan voorkom,” het hy bygevoeg.

Terselfdertyd klou La Niña-toestande nog, alhoewel dit intussen begin verswak het.

“Dis hoogs waarskynlik dat La Niña-toestande ʼn herlewing tussen Oktober en Desember vanjaar sal ervaar, voor dit waarskynlik vóór die winter van 2023 sal verdwyn,” het Van den Berg gesê.

“Die Indiese Oseaan sal tydens die komende seisoen na verwagting ook toestande handhaaf wat die La Niña sal ondersteun,” het hy bygevoeg.

Hy meen die weerstoestande sal sorg vir ondergemiddelde reën tot en met Oktober, waarna gemiddelde tot bogemiddelde reënneerslae tussen November en Januarie kan volg.

KOUER SEE

Van den Berg het verduidelik dat die belangrike Niño-3.4-gebied in die Stille Oseaan se seeoppervlaktemperatuur gedaal het van 1,2 °C koeler as normaal teen die einde van Mei, na nou net sowat 0,6 °C koeler as normaal.

Sou dit die 0,5 °C-drempel oorskry, sou dit die vlak van neutrale weerstoestande betree.

“Seeoppervlaktemperature in alle Niño-gebiede het verlaag en sal waarskynlik binne die volgende maand of twee ʼn meer neutrale fase betree. ʼn Swak herlewing van La Niña-toestande word tussen die einde van Augustus tot in Desember verwag,” het hy bygevoeg.

Hy sê in die komende seisoen sal die Indiese Oseaan ʼn belangrike rol in reënneerslae in die ooste en suidelike dele van Afrika speel.

“Die Indiese Oseaan-dipool (IOD) verkeer tans in ʼn neutrale fase, maar volgens voorspellings sal dit ʼn skerp daling na ʼn negatiewe fase vanaf vandeesmaand tot in minstens Desember ervaar.

“Tydens ’n negatiewe fase van die IOD, is die Indiese Oseaan se seeoppervlaktemperatuur koeler in die westelike dele teenaan die kusgebied van Afrika en warmer nader aan Australië, soos dit in 2021 die geval was.”

SA OES

Intussen is die oes van somergewasse in Suid-Afrika in volle swang, alhoewel die afgelope weke se winterreën “baie nat toestande” in sommige gebiede meegebring het, en dit landerye moeilik toeganklik vir boere maak.

“Individuele oeste is tans gemiddeld tot bogemiddeld, behalwe in gebiede wat erg verspoel het.

“Volgens nasionale oesskattings word ʼn daling van 10% in die mielie-oes teenoor verlede jaar verwag,” het hy gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.