Lede van die Namibië Landbou-unie (NLU) wat teen 1 April met goeie voorstelle vorendag kan kom oor hoe om die jonger geslag aan te moedig om by die landboubedryf betrokke te raak, staan ‘n kans om ‘n prys ter waarde van N$4 000 te wen.

Die NLU sê baie boereverenigings woeker met idees oor hoe die jonger geslag by hul aktiwiteite en ook by georganiseerde landbou betrek kan word.

Volgens die NLU dui opnames wat hulle gedoen het aan die gemiddelde ouderdom van hul lidmaatskap toon óf dat jonger boere nie meer by die landbou betrokke is nie, óf dat hulle nie in georganiseerde landbou belangstel nie.

“Hoekom weet ons dan van boerderygemeenskappe wat floreer op die insette van die jonger geslagte, wat innoverend dink en met nuwe planne vorendag kom? Daar is jonger boere wat gretig is om te leer, maar wat ook hulle idees en voorstelle met die ouer geslag kan deel en gehoor kan word.

“Wat doen hierdie gemeenskappe anders? Hoe betrek hulle die jonger generasie sodat hulle die waarde van georganiseerde landbou kan raaksien en verstaan? Waardes waarin hulle kan deel, en wat verseker ‘n bemagtigende omgewing word geskep en kontinuïteit word moontlik gemaak,” het die NLU gesê.

Die NLU het dus met Cymot hande gevat om ‘n kompetisie te hou om uit te vind hoekom daar gemeenskappe is wat baie jonger boere as lede het.

“Hiermee nooi ons al ons lede uit om voorstelle in te stuur oor hoe die jonger geslag aangemoedig en betrek kan word.”

Lede wie se voorstelle met alle boereverenigings gedeel kan word, sal aan ‘n trekking kan deelneem, met aanloklike pryse wat deur Cymot geborg word.

Die eerste prys sal ‘n geskenkbewys van N$4 000 wees, die tweede prys ‘n N$2 000-geskenkbewys en die derde prys ’n geskenkbewys van N$1 000.

Voorstelle moet teen 1 April na nau@nau.com.na gestuur word.

Die wenners sal in die NLU se nuusbrief aangekondig word en ‘n opsomming van voorstelle sal in ‘n latere stadium met lede gedeel word.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.