Namibiese landbouers se insetkoste beur steeds opwaarts, met geen vooruitsigte op verligting as dit kom by die olieprys, kunsmis, voer of lek nie.

Die Namibië Landbou-unie (NLU) het in sy jongste kwartaallikse-oorsig van insetkoste gesê ’n kombinasie van internasionale faktore het gelei tot die styging van reeds hoë pryse van noodsaaklike landbou-insette of wêreldwye kommoditeitspryse.

“Hierdie kommoditeite is van kardinale belang vir Namibië se landbou, wat as prysnemer baie afhanklik van invoere is.”

KUNSMIS, VOERE EN LEKKE

Die NLU verduidelik ureumpryse het sedert die Covid-tydperk hoog gebly – ook weens die konflik tussen Rusland en die Oekraïne.

“Van die wêreld se grootste produsente van ureum het uitvoere tot einde Mei opgeskort en die impak hiervan word in die jaar-tot-jaar-prysstyging plaaslik, asook in Suid-Afrika, gesien.

“Ureum se prys het met meer as 100% gestyg – presies met 102% in Namibië en 125% in Suid-Afrika. Die mark bly wisselvallig en plaaslike pryse dui reeds op ’n opwaartse neiging vir die volgende kwartaal,” sê die NLU.

Die jaar-op-jaar plaaslike prys van fosfaat (P12) het met meer as 50% gestyg, vanaf N$9,28/kg in 2021 tot N$14,63/kg in 2022, sê die unie.

Op die internasionale mark word gemeen dat fosfaat intussen moontlik sy hoogtepunt bereik het en ’n afwaartse neiging kan volg. Die impak van die wisselkoers, gekombineer met ondoeltreffendheid by hawens (byvoorbeeld Durban se hawe) asook hoë vervoerkoste, kan egter pryse hoog hou, meen die NLU.

Die unie sê die jaar-op-jaar prys van geelmielies het met 34,2% in Suid-Afrika gestyg, vanaf N$3,40/kg in die tweede kwartaal van 2021 tot N$4,50/kg in die tweede kwartaal van 2022.

“In Namibië het die prys vir dieselfde tydperk met 27,5% gestyg vanaf N$4,87/kg in 2021 tot N$6,21/kg in 2022,” sê die NLU.

“Die styging in die pryse van bogenoemde insetkostes verklaar die styging in voerkoste wat in die NLU se produksiekoste-indeks weerspieël word.”

OLIES EN ENERGIE

“Vooruitsigte vir die derde kwartaal van 2022 is dat olie- en energiepryse na verwagting hoog sal bly weens ’n kombinasie van voortdurende aanbodtekorte en ’n sterk vraag. Daarom word verwag dat Namibiese pryse gedurende die derde kwartaal hoog sal bly,” sê die unie.

Daar word verduidelik dat die wêreldmarkte vir olies en energie, soos gas, steenkool en elektrisiteit sukkel. Dit maak invoerders van netto energie, soos Namibië, kwesbaar.

“Volgens opdaterings deur die Wêreldbank, IEA, FAO, OECD en Grains SA van Junie 2022 het energiepryse tot hul hoogste vlakke in dekades gestyg. Ru-oliepryse het in Junie 2022 met meer as 40% gestyg (US$108,76 per vat) vanaf hul vlakke in Junie 2021 (US$73,84 per vat).

“Die Russies-Oekraïense konflik bring prysskokke mee en lê die bestaande onderliggende knelpunte aan die aanbodkant bloot.

“Die afname in beleggings in olie en aardgas en ’n effense kanteling na hernubare energie, het die voorsiening van olie en energie negatief beïnvloed.

“Intussen het die vraag na energie en olie toegeneem weens die globale herstel ná Covid-19 en die verwagte koue en lang winters in die Noordelike Halfrond.

“Vandaar die verhoogde olie- en energiepryse, wat ons in ons binnelandse mark sien,” sê die NLU.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.