Woensdag styg die brandstofprys in Namibië vir die vyfde keer vanjaar en sal ‘n liter petrol 64,4% méér as in Julie 2021 kos, terwyl ‘n liter diesel 67,7% duurder sal wees.

Die senior woordvoerder van die ministerie van myne en energie, Andreas Simon, het aan Republikein bevestig dat die petrolprys op 6 Julie met N$1,88 per liter verhoog, terwyl diesel se prys met N$1,34 per liter styg. Dit volg ná ‘n kennisgewing van die Namibiese Vereniging van die Oliebedryf aan handelaars die naweek uitgelek het.

Dit beteken petrol op Walvisbaai sal dan N$22,28 per liter kos, terwyl ‘n liter diesel teen N$22,77 verkoop sal word. Verlede Julie was dié pryse N$13,55 en N$13,58 onderskeidelik.

Om ‘n sedanmotor met ‘n 40-litertenk verlede Julie met petrol aan die kus te vul, het N$542 gekos. Woensdag gaan dit N$891,20 wees, bykans N$350 méér. Om 70 liter diesel in ‘n bakkie te tap, het N$950,60 gekos. Woensdag gaan jy N$1 593,90 opdok – ‘n styging van sowat N$643.

Buiten vir die onstuimigheid in die internasionale oliemark wat deur die konflik tussen Rusland en Oekraïne aangevuur word, speel die swak rand ook ‘n reuserol in die plaaslike brandstofprys. Die rand, waaraan die Namibiese dollar gekoppel is, het Vrydag tot sy laagste vlak in ‘n jaar teen die Amerikaanse dollar geval, het Fin24 berig. Die afgelope drie maande het die rand sowat 10% teenoor die Amerikaanse geldeenheid verswak.

PRYSMONSTER

Die jongste inflasiedata van die Namibiese Statistiekagentskap (NSA) toon brandstofinflasie het bykans verdubbel – van 21,7% in Mei 2021 tot 42% in Mei vanjaar.

Brandstof dra ‘n direkte gewig van 5,01% in Namibië se verbruikersmandjie. Die nuwe stygings sal algehele inflasie aanvuur. Druk sal toeneem om tariewe vir openbare vervoer te verhoog en besighede sal die hoër insetkoste van goedere en dienste gedeeltelik op die verbruiker afskuif.

Algehele inflasie in Mei 2021 was 3,8%. In Mei vanjaar was dit 5,4%.

Die inflasionêre uitwerking van die oorlog in die Oekraïne sal waarskynlik eers in die tweede kwartaal en daarna plaaslik gevoel word, sê Simonis Storm (SS). Hoër voedsel- en brandstofpryse gaan druk op huishoudelike begrotings plaas. Dít sal weer druk op huishoudelike besteding uitoefen, wat sowat 70% van Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) verteenwoordig, aldus dié ontleders.

Syfers wat verlede week deur die NSA vrygestel is, toon groot- en kleinhandel het in die eerste kwartaal vanjaar met ‘n skrale een persent gegroei, die swakste vertoning in bykans ‘n jaar.

EKONOMIE

Namibië se ekonomie het in die eerste drie maande vanjaar met 5,3% gegroei – die beste eerste kwartaal sedert 2018.

In reaksie op dié syfers het SS gesê dié kwartaal sal waarskynlik die beste vir vanjaar wees. Buiten dat die impak van internasionale verwikkelings nog nie ten volle na Namibië deurgevloei het nie, was daar net een rentekoersverhoging – 25 basispunte – in die eerste kwartaal. In die tweede kwartaal was daar twee – in totaal 75 basispunte – en SS verwag ‘n verhoging van nóg 100 basispunte vanjaar. Dit sal die besteebare inkomste van verbruikers knou, maan SS.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.