Die Namibiese Organiese-vereniging (Noa) sal in Augustus ʼn kompetisie vir vroueboere wat organies boer in die sosiale media aanbied.

Die kompetisie vorm deel van die Female Food Heroes-veldtog wat deur die Vroue in Landbou Namibië (Wian) van stapel gestuur word.

Noa sê die doel van die veldtog is om vroue te vier wat aktief in landbou betrokke is en daagliks help om kos op mense se tafels te plaas.

“Onder leiding van Noa, sal die veldtog se fokus val op die toepassing van organiese praktyke deur vroue – in beide gewas- en lewendehaweproduksie,” het die vereniging gesê.

Noa het in sy jongste nuusbrief verduidelik deelnemers moet ʼn video van 30 sekondes lank van hul boerdery en organiese praktyke in die sosiale media deel, terwyl die publiek die wenner sal kies na gelang van die aantal ‘likes’ wat sy ontvang.

Die wenner sal dan ʼn jaarlange lidmaatskap van Nao wen, asook ’n mentorskapprogram onder leiding van ʼn kenner van die Noa-raad en ʼn begeleide toer van die plaas Krumhuk, ʼn gesertifiseerde organiese groenteprodusent.

Belangstellendes kan die vereniging se sosialemediaplatforms dophou vir meer inligting.

KURSUS IN PERMAKULTUUR

Noa sê ook ʼn kursus in permakultuur-ontwerpe sal op die plaas Neumark in die Kalahari vanaf 10 tot 23 September vanjaar aanbied word, in noue samewerking met Seeds Eco-Village.

“Die kursus sal deur Alex Kruger gefasiliteer word, ’n permakultuur-kenner van Suid-Afrika wat reeds meer as 50 van die kursusse aangebied het, sedert sy haar eerste kursus in Zimbabwe in 1993 voltooi het.

“Behalwe dat sy opleiding en ontwerpe doen van permakultuur-stelsels onder verskillende omstandighede, was sy ook al betrokke in die ekologiese restourasie van grond en verskeie opleidingsprogramme. Sy bring dus ’n leeftyd se ervaring saam met haar na die kursus toe,” sê Noa.

Onderwerpe wat oor die twee weke bespreek sal word, sluit in die beginsels van permakultuur, etiese kwessies as dit by klimaat en geografie kom asook die integrasie van sosiale, ekonomiese en ekologiese dimensies in die ontwerpe van permakultuur.

Vir meer inligting kan Noa direk by info@noa.org.na gekontak word.

Intussen het Noa se voorsitter, Eckhart Förtsch, op 25 Junie ʼn praatjie oor organiese beesvleis vir lede van die Rietfontein Boerevereniging aangebied.

Tydens die geleentheid, wat op die plaas Pfeffelbach in die omgewing van Otavi gehou is, het Förtsch gepraat oor die uitdagings en geleenthede van organiese kultuur in Namibië.

Altesaam sowat 48 boere uit die omgewing het die geleentheid bygewoon.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.