Ondeursigtigheid, selfoonoproepe na top-bestuurslede van Meatco wat onbeantwoord bly wanneer produsente navrae oor laat betalings doen en allerhande logistieke verskonings wat as redes daarvoor opgedis word en nie gemoedsrus bring nie, het daartoe gelei dat ‘n groep, bekend as “Bekommerde boere”, tot aksie oorgegaan het. ‘n Brief in dié verband is begin Julie aan die ministers van landbou en finansies gestuur waarin die noodkreet dringende optrede was om oplossings te implementeer.

Omdat Meatco nie bereid was om ‘n volledige lys van agterstallige betalings te verskaf nie, het “Bekommerde boere” ‘n steekproef onder 46 produsente gedoen wat sowat 4 300 slagdiere aan Meatco gelewer het. Laat betalings aan hulle alleen beloop N$76,2 miljoen. ‘n Dag ná afsluiting van dié opname het nog ‘n produsent bygekom wie se agterstallige betalings op N$20 miljoen staan. Agterstand op 90 dae was die hoogste op N$34,8 miljoen.

“Indien Meatco volgens internasionale standaarde bedryf sou word, sou so iets nooit gebeur het nie. In die geval van Agribank word aksie nou teen 197 boere geneem wat nie hul leningsverpligtinge nakom nie,” sê die groep in hul brief aan die twee ministers.

Voorts word melding daarvan gemaak dat produsente die las moet dra van hoë rente en kontantvloeiprobleme. “Dit het ook ‘n impak op die ganse beeswaardeketting met laer veilingpryse en minder bestedingskapitaal in die laer inkomstegroepe terwyl die regering se teiken van ‘n balans tussen speenkalf- en beesvleis-uitvoer in gebreke bly.”

Die brief sluit soos volg af: “Ons as produsente bevorder die regering se tuisgroeibeleid en probeer armoede verlig, maar dit kan net bereik word deur samewerking tussen al die relevante sektore en ministeries.”

[Bron – AfriForum Namibia]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.