Die bekende Bonsmara-teler en megaboer, dr. Joggie Briedenhann, sê Hartebeestloop Bonsmaras se 15de produksieveiling verlede Vrydag op sy plaas naby Stampriet was een van die mees suksesvolste veilings nóg.

Tien stoettelers uit Suid-Afrika, Botswana en Namibië het bulle gekoop.

“Hartebeestloop Bonsmaras is al 13 jaar besig met die teling van poena- of horinglose beeste en die poenabulle het oor die algemeen uitstekend gevaar op die veiling.

“Daar is ’n groot vraag na poenabeeste en dit is weerspieël in die kompetisie onder kopers om poena-genetika te bekom,” sê Briedenhann.

Lot 16 het die hoogste prys van N$500 000 behaal.

Dr. Christo Burger, ’n mediese dokter van Windhoek en eienaar van Mytilus Elite Farming, is dié trotse nuwe eienaar.

Altesaam 50 bulle het onder die hamer gekom en die gemiddelde prys per bul was N$135 000.

“Nic Serfontein van Sernick, wat verlede jaar die topbul gekoop het, het vanjaar vasgetrap en ’n baie goeie Poena-bul gekoop. Daar was ook ’n koper uit Prieska wat twee bulle gekoop het, en dan het ons ’n koper uit Botswana gehad wat sewe bulle gekoop het,” vertel Eugenie Briedenhann, sy vrou.

Sy sê Keith Keating, ’n Suid-Afrikaner, het “geweldig sterk onder die vroulike diere gekoop” én ook bulle aangeskaf.

“Die 200 vroulike diere was van ’n baie goeie gehalte en het vir bogemiddeld goeie pryse verkoop,” vertel (dr. Joggie) Briedenhann.

“Die Bonsmara is ’n moederlyn-ras en die vraag bly groot na hoë gehalte aanteeldiere. Ons maak jaarliks voorsiening vir ongeveer 200 vroulike diere op die veiling en dit het ’n mark geskep vir boere om hulle vervangingsverse op een veiling te bekom,” sê hy.

Agra het twee aanlyn platforms, Marketplace en Swiftvee, tydens die veiling gebruik, vertel hy verder.

“Nieteenstaande die feit dat die Hartebeestloop-veiling tradisioneel ’n geleentheid is waar boere beeste self kom besigtig en dan koop, word die aanlyn opsies elke jaar gewilder. Die aantal mense wat die veiling bygewoon en geregistreer het, plus die aanlyn registrasies, was die meeste nóg,” sê hy.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.