Na verwagting sal ­internasionale beesvleispryse in 2022 verstewig, aangevuur deur die sterk vraag na beesvleis uit China en die hoë ­insetkoste weens voertekorte wat die oorlog tussen Rusland en ­Oekraïne tot gevolg gehad het.

Gesien in die lig van die stygende brandstof- en voerpryse, sal die winsgewendheid van produsente in reële terme egter waarskynlik afneem, sê die Vleisraad van Namibië.

Volgens die raad se veebemarking­syfers vir die eerste kwartaal van 2022, is altesaam 51 241 beeste gedurende dié tyd bemark. Dit verteenwoordig ‘n groeisyfer van 18,96% teenoor dieselfde tydperk in 2021.

Lewende uitvoere en bemarking by uitvoerabattoirs het bygedra tot hierdie positiewe groei, terwyl die aantal beeste wat by plaaslike abattoirs geslag is, afgeneem het, sê die Vleisraad in sy kwartaaloorsig.

Ofskoon die totale beesbemarking onder die vyfjaargemiddeld vir die eerste kwartaal was, verteenwoordig die 13 998 beeste wat by uitvoerabattoirs geslag is, ’n styging van 8,92% – wat dit bo die vyfjaargemiddeld stoot. Altesaam 15 247 beeste is in die eerste kwartaal van 2022 geslag.

Die getal beeste wat lewend uitgevoer is, was hoër as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar en het 28 972 beloop – byna die helfte van die vyfjaargemiddeld (56 373 beeste) vir die eerste kwartaal.

Aan die handelsfront het beesvleis­uitvoere in die eerste kwartaal van 2022 altesaam 2 043 ton beloop, wat 137% hoër is as die 862,7 ton wat in die eerste kwartaal van 2021 uitgevoer is.

Aan die ander kant het beesvleis­invoere, wat hoofsaaklik uit verwerkte produkte en afval bestaan, met 9% toegeneem en in die eerste kwartaal op 539,7 ton te staan gekom.

Die Vleisraad sê dit dui op ‘n herstel in die vraag na hierdie produkte.

Die verhouding van ingevoerde beesvleis as ‘n persentasie van beesvleis­uitvoere was 26% – byna die helfte minder as die 57% in die eerste kwartaal van 2021. Die Vleisraad wys in sy verslag op die verbetering in die handelsbalans van beesvleis as gevolg van verhoogde produksie en uitvoer.

Die meeste van die beesvleis is eerste kwartaal van 2022 na Noorweë uitgevoer (29,02%), gevolg deur Suid-Afrika (24,66%) in die tweede plek en die Europese Unie (23,97%) as die derde grootste uitvoermark.

SKAPE

‘n Totaal van 108 245 skape is in die eerste kwartaal van vanjaar bemark teenoor 85 077 in die eerste ­kwartaal van Januarie 2021. Hiervan is 87 081 lewend uitgevoer en 21 164 ­plaaslik geslag vergeleke met 55 251 en 29 826 in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Geen skaapvleis is in dié tydperk uitgevoer nie.

BOKKE EN VARKE

In die eerste kwartaal van 2022 is 23 184 bokke bemark teenoor die 17 076 in 2021. Hiervan is 23 077 lewend uitgevoer teenoor die 15 213 in die eerste kwartaal van 2021.

Vark toon ‘n geringe afname met 10 935 wat plaaslik geslag is van ­Januarie tot einde Maart 2022 teenoor 11 122 in 2021.

Altesaam 147 471 kg skaapvleis en 1 118 128 kg varkvleis is in die eerste kwartaal ingevoer.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.