Plantegroei oor die meeste dele van die land het gedurende Maart agteruitgang getoon, met gebiede soos die Hardap-, ||Kharas-, suidelike Omaheke-, Oshana-, die groter Erongo- en groot dele van die Kunene- asook die Omusatistreek, waar dit ver ondergemiddeld is.

Die res van die land ervaar tans normale tot ietwat ondergemiddelde plantegroei.

Die suidelike, sentrale en westelike dele van die land is die ergste geraak en in baie van die gebiede het droë toestande lank tydens die reënseisoen geheers, wat beteken daar het min weiding gegroei.

BESTUURSOPSIES

Die reënseisoen is besig om tot ’n einde te kom en proaktiewe bestuur word aanbeveel om die risiko vir ’n weidingstekort tydens die komende droë seisoen te beperk.

Dit sluit in om ’n opname te maak van hoeveel weiding beskikbaar is asook die getal diere wat jy het, om nieproduktiewe diere te bemark terwyl hul kondisie asook pryse relatief goed is. Ander opsies is om bykomende voeding, byvoeding of weiding te bekom terwyl dit nog beskikbaar is of om te begin boskos maak – hetsy jy bestaande toerusting moet mobiliseer of vir die eerste keer daarin wil belê.

HOEKOM BELANGRIK?

Veeproduksie in Namibië is grootliks van die produktiwiteit van weivelde afhanklik, wat tot baie lae vlakke gedurende erge droogtes kan daal.

Die wisselvalligheid bied ernstige bestuursuitdagings om diere se voedingsbehoeftes met die beskikbare weiding te balanseer, asook om die agteruitgang van die grond te voorkom.

Dié inligting kan aandui watter dele van die land moontlik die meeste deur droogte geraak kan word as dit aan die einde van die reënseisoen kom. Dit gee ook voldoende tyd om droogtehulpaksies te beplan.

HOE DIT WERK

Die sleutelkomponent van die vroeë waarskuwingstelsel is tegnologie vir afstandswaarneming wat vrylik beskikbaar is en, naby aan ware tyd, die aktiewe plantegroei oor die hele Namibië meet.

Deur die huidige plantegroei-aktiwiteit met die tien jaar gemiddeld vir een spesifieke gebied te vergelyk, kan ’n objektiewe idee van die status van die weiding verkry word.

Kaarte wat die weidingstatus uitbeeld, word elke tien dae gedurende die reënseisoen (Oktober tot einde Mei) ontwikkel en is aanlyn beskikbaar by http://www.namibiarangelands.com.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.