Namibië het nog nie begin met die toediening van die vierde dosis entstof teen Covid-19, ofte wel die tweede aanvullende dosis (booster shot) nie.

Met 126 nuwe Covid-19-gevalle wat die afgelope week in die land aangeteken is, het die hoof van die land se Covid-19-taakspan, Petronella Masabane, gesê die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste volg voortgeset studies in dié verband in die buiteland.

“Die oomblik wanneer wetenskaplike bewyse oor die vierde dosis beskikbaar is, sal die publiek oor die pad vorentoe en met betrekking tot Namibië se posisie en planne ingelig word,” het sy by navraag gesê.

Die positiwiteitskoers staan op 19,1%. Die aantal toetse het met 23% afgeneem teenoor die vorige week. Gevalle is in 11 streke van die land aangemeld, terwyl twee sterftes – twee mans van onderskeidelik Onandjokwe en Rundu – oor dié tydperk aangeteken is.

Tans het 580 731 Namibiërs ’n eerste dosis entstof ontvang, terwyl 503 839 ten volle ingeënt is; 28,3% van die teikenbevolking van 1,79 miljoen.

Volgens Masabane is geen nuwe gevalle sedert Desember van die Kraken-variant, ’n subvariant van Omicron, in Namibië aangeteken nie.

Met verwysing na die beskikbaarheid van entstowwe het Masabane gesê gegewe die huidige opname van entstowwe het die land steeds genoeg in voorraad.

Vir Sinopharm is daar tans 20 420 dosisse, AstraZeneca 18 900 en Johnson & Johnson 3 780. Voorraad van Pfizer-dosisse binne die vervaldatums is uitgeput, maar ’n besending word in Maart verwag.

Aangesien die immunisering teen Covid-19 deel van die Nasionale Uitgebreide immuniseringsplan (EPI) en die ministerie se primêre gesondheidsorgdienste (PHC) is, is die entstowwe by alle PHC-klinieke oraloor die land beskikbaar.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.