Die Gobabis-munisipaliteit beplan glo tugstappe teen ses van sy werknemers wat klagte van korrupsie, wat verband hou met beweerde nepotisme en die toekenning van tenders, in die gesig staar.

Die munisipaliteit het verlede jaar die werknemers met volle betaling geskors, naamlik die uitvoerende hoof van finansies, Filemon Makili, korporatiewe uitvoerende hoof, Frieda Shimakeleni; die waarnemende praktisyn vir korporatiewe dienste en menslike hulpbronne Ashipala Kayambu; die bestuurder van elektriese dienste Johannes Nantuua, en twee IT-tegnici, Kondjeni Nghiwanapo en Paul Kayambu.

Die voorsitter van die bestuurskomitee, Sylvester Binga, het gesê die raad is steeds besig om die kwessie te hanteer. Dit volg ná kommer dat die saak nie aandag kry nie en dat die geskorste amptenare steeds volle betaling ontvang.

“Die gemeenskap verneem voortdurend oor die status van die saak. Sommige amptenare is reeds aangekla en sal in ’n dissiplinêre verhoor verskyn. Op die oomblik is die saak nog aan die gang,” het Binga gesê.

Hy het bygevoeg die dissiplinêre verhoor word in die komende dae beplan, maar wou nie bekend maak op watter klagte die werknemers beskuldig word nie.

‘POLITIES GEMOTIVEERD’

Volgens een van die senior geskorste amptenare, Makili, is dienslewering geraak deur die munisipaliteit se optrede teen die amptenare.

“Dis belangrik om uit te wys dat die amptenate almal van een stam is en hulle word geteiken deur onwettige skorsings. Verder, aangesien Gobabis ’n klein dorpie is, is die amptenare bekend as lede van die regerende party.”

Maklili beweer verder dat ten tyde van hul skorsing, geen konkrete rede hiervoor verskaf is nie.

“Gegewe die feit dat geen geldige, rasionele en deurslaggewende redes aangevoer is vir die onregmatige skorsings en die wyse waarop die skorsings uitgevoer is nie, is dit baie duidelik dat die skorsings polities gemotiveer is en ’n veldtog van viktimisasie en vervolging van die amptenare is.”

Die voormalige uitvoerende hoof van Gobabis, wyle Ignatius Thudinyane, het in Junie 2019 ’n verslag vrygestel wat verwys na bewerings dat hoogs betaalde bestuurders by die dorp onbevoeg is, dat hulle hom verontagsaam het, dat hulle ’n gebrek aan leierskapsvaardighede het en dat hulle nie die verlies van miljoene kon opmerk nie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.