Terwyl weerkenners meen die komende week (16 tot 22 Januarie) mag eindelik langverwagte reën vir Namibië beteken, is die situasie kritiek vir akkerbouers in die land se grootste mielieproduserende gebiede.

In beide die Karstveld- asook die sentrale- tot oostelike mielieproduserende gebied het min tot sporadiese reën tot dusver voorgekom, sê akkerbouers.

Intussen het LandWater, ‘n nieregeringsorganisasie wat satellietbeelde van veral die weer wetenskaplik ontleed, verlede week gesê ‘n “reëngolf” oor Namibië en Suid-Afrika sou oor die afgelope naweek (13 tot 15 Januarie) begin opwen. Reëndekking sal aanvanklik kol-kol en verspreid voorkom.

Terselfdertyd is akkerbouers bekommerd dat daar tot dusver nog min gekom het van vanjaar se belowende weervooruitskouings. Vroeë aanduidings is dat die teleurstellende reënsyfers dalk daartoe kan lei dat akkerbouers óf glad nie, óf heelwat minder mielies gaan plant as wat aanvanklik beoog is.

SENTRAAL-OOS

Nico Steenkamp, ‘n akkerbouer uit die sentrale mielieproduserende gebied in die omgewing van Gobabis, sê sedert die begin van Desember het hy altesaam nog net 14,5 mm reën op sy grond ontvang.

Rondom sy plaas Tokat is daar wel ander wat tot 100 mm gehad het, maar hy sukkel selfs nou om sy mielies, wat oor 100 hektaar geplant is, onder besproeiing nat genoeg te hou. Dit is tans so droog dat hy net nie kan voorbly met die verskuifbare spilpunt nie, sê Steenkamp.

Hy sê hy plant gewoonlik ook sowat 200 ha mielies op droëland. “Vanjaar het ek nog niks geplant nie. Jy kan nie ‘n planter in die land inkry nie, dit is alles nog kliphard. Tot die onkruid het nou al gevrek.

“Ons is egter hoopvol. Ons Skepper het ons nog nooit bo ons kragte versoek nie. Ons sal genade ontvang. Wat ek wel vir jou kan sê, is ons is vandag een dag nader aan die reën,” sê hy.

Op die vraag of hy wel mielies sal plant as weertoestande sodanig verander, spot hy: “Jy plant glad nie in Januarie nie. Dit is heeltemal teen jou geloof en beginsels, maar daar is niks verkeerd met die 45ste Desember nie!”

Elize van Niekerk van die plaas Springvale in die Summerdown-gebied, sê sy het vanaf Oujaarsdag tot 4 Januarie van haar droëland-mielies geplant. “Hulle het opgekom, maar as hulle nie nou binne vyf dae reën kry nie, lyk sake nie goed nie,” het sy gesê.

MIELIEDRIEHOEK

Gernot Eggert, ook ‘n akkerbouer in die omgewing van Kombat en die voormalige voorsitter van die Akkerbouprodusentevereniging (APV), sê in die Mieliedriehoek is dit tans droog en raak die situasie nou kritiek.

“Daar is nie diep vog nie. Ons het nog nie grondvog nie,” het hy gesê.

“Ons beplan om meer mielies te plant, maar dit is nog vrek droog in hierdie stadium. Tans plant ons droog en hoop dat daar iets met die reën gebeur. Dit is ‘n groot risiko en ons hoop die voorspellings vir reën word vir ‘n slag waar,” het hy gesê.

Hy het reeds die helfte geplant van dit wat hy aanvanklik wou. Terwyl hy tot dusver nog nie groot verliese onder dié mielies gehad het nie, raak die risiko hiervoor nou groot.

Die akkerbouer Emil Jung van die plaas Johannestal in die Grootontein-vallei, sê hy het op Vrydag 13 Januarie sy laaste 15 ha mielies geplant. Hy het reeds op 10 Desember begin plant en tot dusver 110 mm reën gehad, maar dit was nie goed verspreid nie – met lang droogteperiodes tussenin.

“Beide die weervoorspellings en die weer self het baie belowend gelyk. Tog het min hiervan gerealiseer en dit bly maar ‘n dobbelspel,” sê Jung.

“Ek het nog niks mielies verloor nie, maar wel weiding. Ons het reeds beeste verkoop omdat ons probleme met die beskikbaarheid van weiding verwag.

“Wat die mielies betref – altesaam 120 ha wat ek geplant het, sal dit maak, maar daar kan dalk verliese onder die res voorkom as dit nie binne die volgende week reën nie,” het hy gesê. Hy meen hulle sal dalk oorweeg om voorts eerder voer vir die beeste aan te koop as om nog mielies te plant.

Stefan Tietz, ‘n jong akkerbouer uit Grootfontein wat verlede jaar ‘n indrukwekkende oes van gemiddeld vier ton mielies per ha gehad het, sê hy het ook op 12 Desember begin plant. Hy het ook eers net die helfte geplant van dít wat hy aanvanklik beplan het.

“Ek het nog nie verliese gely nie, maar as ons nie binne die volgende week reën kry nie, sal daar skade wees,” het hy aan Republikein gesê. Tietz sê hy oorweeg om dalk nie verder enige mielies te plant nie, afhangende van hoe die weer lyk.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.