Ingrypende bykomende voorwaardes vir diensverskaffers in telekommunikasie word uiteengesit in Staatskoerant nommer 7797, gepubliseer op 28 April 2022, en spesifiek die algemene kennisgewing nommer 180.

Hiermee verplig die regering, spesifiek deur die ministerie van inligting, kommunikasie en tegnologie en die Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran), dat diensverskaffers vir vyf jaar rekords van besonderhede van individue in Namibië se telekommunikasie moet hou.

Dié inligting moet aan beamptes geregtig daarop voorsien word, saam met onderskepte kommunikasie en besonderhede van onderskepte kommunikasie, teen ’n fooi.

Diensverskaffers moet egter op eie stoom verseker dat hul toerusting, stelsels en dienste telekommunikasies kan onderskep, rekordhou van onderskepte kommunikasies en op aanvraag opnames van onderskepte kommunikasies moet kan lewer.

Die nuutste voorwaardes is aanvullend tot regulasies wat die minister van inligting, kommunikasie en tegnologie, mnr. Peya Mushelenga deur algemene kennisgewing nr. 40 reeds op 15 Maart 2021 in die Staatskoerant laat afkondig het.

Hierin het die minister aangedring dat ’n polisiebeampte of lid van die staat se intelligensiedienste eers goedkeuring vir enige versoek tot inligting by ’n regter of landdros moet kry. Fooie word ook uiteengesit, met N$400 per geteikende individu wie se kommunikasie onderskep moet word, plus N$30 per maand van onderskepte data, en N$250 vir elke onderskepping ná werksure, onder andere.

Inligting wat op rekord gehou moet word, sluit in die kliënt se foonnommer en internetprotokoladres (IP-adres), die nommer wat gebel het of waarheen gebel is, bron en bestemming van kommunikasies anders as oproepe, die hoeveelheid data wat gedeel is, die datum, tyd en lengte van die kommunikasie, inligting oor veelparty kommunikasies, oproepe wat herlei word, afgekorte skakels en stemboodskappe.

Identifikasie van seltorings en basisstasies betrokke by die kommunikasie moet ook op rekord wees.

Terwyl laas jaar se kennisgewing reeds uitgebrei het oor die inligting wat diensverskaffers oor hul kliënte moet insamel, vereis die bykomende voorwaardes uiters streng beheer oor die toekenning van intekenaars se identifikasiemodule, beter bekend as SIM-kaarte.

SIM-kaarte mag nou slegs ná registrasie en die verskaffing van identifikasiebesonderhede uitgereik word. Bestaande kliënte kry een jaar grasie om hul besonderhede te voorsien, of hul SIM-kaarte word gedeaktiveer.

Elke SIM word aan ’n individu in hul persoonlike hoedanigheid uitgereik, óf aan ’n maatskappy waarvoor ’n spesifieke individu aanspreeklik gehou word. ’n Mens mag nie meer sonder skriftelike toestemming jou SIM-kaart in iemand anders se foon oorplaas nie.

’n Verlore SIM-kaart moet aangemeld word en vir ’n vervanging moet aansoek gedoen word. Diensverskaffers moet onmiddellik by ontvangs van so ’n aansoek die oorspronklike SIM-kaart deaktiveer. Minderjariges mag slegs met deelname van hul ouers of wettige voogde SIM-kaarte kry, waarvoor die ouer of voog ook moet pa staan.

Inligting wat op registrasie moet voorsien word sluit in vollenaam en huisaddres, of ’n gevestigde bekende nabye gebou soos ’n skool, kerk of poskantoor, in die geval van inwoners van informele nedersettings. Kliënte moet ook hul identiteitsnommer en afdrukke van foto-identifikasie verskaf, terwyl maatskappye registrasie en besigheidsaddresse moet voorsien.

“Die voordele van SIM-kaartregistrasie is dat dit anonimiteit van kommunikasie uitwis, wat help met wettige toesig en onderskepping. Dit help ook om misdadigers op te spoor wat telekommunikasie gebruik om oortredings te pleeg,” het die ministerie laas jaar in ’n vrystelling gesê.

In Oktober se vrystelling het die ministerie ook bevestig dat telekommunikasie in Namibië reeds onderskep word.

Vrae wat aan Namibië se twee telekommunikasiediensreuse, MTC en TN Mobile, gestuur is oor hul vermoë om vyf jaar se besonderhede van elke telefoonoproep, SMS, stemboodskap en ander kommunikasie vanaf elke SIM-kaart te stoor, was teen druktyd onbeantwoord.

CRAN se voorsitter, mnr. Mihe Gaomab II, het ook nie op vrae gereageer nie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.