Afrika maak net 2% van die wêreldekonomie uit. Só is Rusland se ekonomie byvoorbeeld groter as dié van die ganse Afrika, het die Suid-Afrikaanse ekonoom en TV-aanbieder Dawie Roodt tydens sy voordrag op die AgriDinamika-dag van die Hochfeld Boerevereniging gesê.
Oor die algemeen is die wêreldekonomie op koers, maar inflasie het ‘n bron van kommer geword, het Dawie bygevoeg. “Einde Februarie was die wêreldinflasiekoers op 7,9% die hoogste in veertig jaar. Dit beteken rentekoerse gaan styg.”
Dan is daar die oorlog in Oekraïne en sanksies teen Rusland – een van die grootste uitvoerders van ru-olie, energie, metale, minerale, kunsmis en saad. “Om Rusland se uitvoer van vyf miljoen vate ru-olie per dag te vervang sal sowat twee, tot drie jaar duur.”
Intussen voorspel Dawie reuse-stygings in petrol en diesel weens die konflik. Hy voorsien die prys per vat kan tot US$180 klim.
Beleggings: Wat die hede betref, was sy beleggingsadvies dat aandele die beste opsie bly.
Energie: Dawie meen in die lig van klimaatsverandering en toenemend stygende energiepryse lê die oplossing in kernkrag wat verreweg die goedkoopste en veiligste is. Steenkool-verbranding is weens sy hoë koolstof-voetspoor nie meer aanvaarbaar nie, terwyl waterkrag “onnodige protes” onder die groenes ontlok. Dit laat ons met uraan as ‘n opsie waarvan Namibië genoeg het.
Op Suid-Afrikaanse bodem
Dawie beweer die nasionale verkiesing oor twee jaar kan geboorte gee aan ‘n koalisie-regering in Suid-Afrika wat politieke bestendigheid sal bevorder. “Een van die redes daarvoor is dat 75% van Suid-Afrika se semi-staatsinstellings bankrot is terwyl die regering se skuldlas met 70% toegeneem het. Die staatskas het oor die afgrond gestort.”
Intussen is brandstofprysstygings aan die orde van die dag, maar het kommoditeitpryse soos goud en platinum ook gestyg, waarby Suid-Afrika baat vind en op sy beurt ‘n netto-invloei in Namibië tot gevolg sal hê, het Dawie gesê. “Stygende kommoditeitpryse ondersteun die rand en as die oliepryse verder die hoogte inskiet, sal dit ‘n positiewe invloed op die prys van goud en platinum tot voordeel van die rand hê.”

[Bron – Agriforum Namibian Agriculture Magazine]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.