Om ’n slagoffer van ’n verkragting te wees is oorweldigend en traumaties. Dit is soms moeillik om kop te hou en die regte stappe te volg ná die tyd, maar volgens kenners kan sekere stappe ’n groot verskil maak om die oortreder vas te trek en te verseker dat hy agter tralies beland.

Die eerste stap is om die voorval aan te meld. Die woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, beklemtoon die belang hiervan omdat dit kan verhoed dat die oortreder iemand anders verkrag.

“Dit is ook belangrik om dit aan te meld, want in die geval waar jy swanger raak, kan dit die proses vir jou makliker maak om ’n wettige aborsie te kry, sou jy dit só verkies,” verduidelik Shikwambi.

Verkragtings hoef nie uitsluitlik by ’n polisiekantoor aangemeld te word nie, maar kan ook by ’n vroue- en kinderbeskermingseenheid gerapporteer word. Dié eenhede is ook beter toegerus omdat die polisiebeamptes daar spesiale opleiding ontvang om verkragtingsvoorvalle en –slagoffers te hanteer.

By hierdie eenhede kan hulle ook slagoffers bystaan om mediese hulp te ontvang en reël dat hulle met ’n maatskaplike werker praat.

Daar is tans vroue- en kinderbeskermingseenhede in 15 dorpe regoor die land. Dit sluit in Windhoek, Rehoboth, Keetmanshoop, Oshakati, Eenhana, Walvisbaai, Mariental, Lüderitz, Tsumeb, Opuwo, Rundu, Katima, Gobabis, Otjiwarongo en Outapi.

BEWYSE

“Goeie bewyse is belangrik om seker te maak die verkragter kan skuldig bevind en tronk toe gestuur word,” benadruk Shikwambi.

Sy het ’n paar wenke gedeel wat ’n groot verskil kan maak in die polisieondersoek asook in die uiteindelike verhoor.

Die eerste wenk aan slagoffers is om nie hulself te was ná die voorval nie. Deur te bad of stort kan belangrike bewyse afgewas word wat ’n dokter moontlik kon opspoor en die saak teen die verkragter kon versterk.

Die tweede wenk wat slagoffers in gedagte moet hou, is om ook nie die klere te was wat hulle ten tyde van die voorval aangehad het nie, aangesien dit ook belangrike bewyse kan bevat.

Nog ’n wenk is om nie die area op te ruim waar die voorval plaasgevind het nie. Die polisie sal as deel van hulle ondersoek die toneel besoek en foto’s neem. Daar kan moontlik belangrike leidrade of bewyse gevind word wat in die verhoor ingesluit kan word.

Die laaste wenk is een waarvan baie mense dalk nie bewus is nie – indien slagoffers bewyse na die polisiekantoor wil saamneem, moet hulle dit nie in ’n plastieksak plaas nie, maar eerder in ’n koerantpapier of enige ander tipe papier toedraai.

“Plastiek kan veroorsaak dat bewyse van dié aard beskadig word.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.