Die direktoraat vir nasionale eksamens en evaluering in die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het op nasionale vlak sy deel gedoen om streng beheermaatreëls in plek te plaas om ‘n herhaling van verlede jaar se vraestel-fiasko te voorkom toe van die vraestelle vir graad 11’ en 12’s uitgelek het. Skole moes einde 2021 noodgedwonge vroeër sluit as wat aanvanklik aangekondig is, om streke in staat te stel om voor te berei vir die voortsetting van die nasionale eksamens in Januarie vanjaar vir vakke wat geraak was.

Vanjaar het ‘n totaal van 38 013 voltydse kandidate vir die Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat Gewone Vlak (NSSCO) ingeskryf. Vir dieselfde sertifikaat het 32 552 deeltydse kandidate geregistreer. Vir die gevorderde vlak (AS) het 8 620 voltydse en 591 deeltydse kandidate vir die NSSCAS geregistreer.

Die uitvoerende direkteur in die ministerie, me. Sanet Steenkamp, het beklemtoon vraestelle en ander eksamenmateriaal word op streeks- en skoolvlak die verantwoordelikheid van streeksdirekteure en skoolhoofde.

“Ons pleit by elkeen betrokke, ingesluit kandidate, onderwysers, departementshoofde, skoolhoofde, toesighouers ens. op nasionale vlak om hul rolle duidelik te verstaan en te speel. As die verantwoordelike en verantwoordbare beamptes hul deel doen en dit goed doen, sal ons uitlek van vraestelle verhoed en wanpraktyke en administratiewe ongerymdhede verminder en of hokslaan,” het Steenkamp gesê.

Volgens Steenkamp word verwag dat die uitslae in Januarie aanstaande jaar vrygestel sal word, met die presiese datum wat in die media bekendgemaak sal word.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.