Finansminister Iipumbu Shiimi is tussen die duiwel en die diep blou see en sy hersiene begroting vanmiddag sal waarskynlik opnuut gekenmerk word deur besnoeiing aan ontwikkelingsprojekte om vir lopende uitgawes te betaal.

Sedert die herinstelling van die halfjaar-begrotingshersiening in 2017-’18 is ontwikkelingsbegrotings met bykans N$3,59 miljard in totaal gesny, hoofsaaklik ten gunste van bedryfsbesteding.

Dr. Omu Kakujaha-Matundu, ‘n senior dosent in ekonomie aan die Universiteit van Namibië (Unam), sê Shiimi het geen bewegingsruimte meer nie en verwag hy gaan geld van die een begrotingspos na ‘n ander rondskuif.

“Ek dink hy gaan as ‘n desperate man parlement toe. Dis moeilik om te voorspel met watse desperate maatreëls hy vorendag gaan kom,” sê Kakujaha-Matundu.

Volgens hom is Shiimi tussen “die duiwel en die diep blou see”: Hy moet die begrotingstekort deur ingeperkte besteding verklein, maar terselfdertyd ekonomiese groei deur groter besteding stimuleer.

SALARISSE

Mnr. Robert McGregor, ekonoom verbonde aan Cirrus Capital, sê hy is bekommerd dat die neiging om ontwikkelingskapitaal te sny om onproduktiewe bedryfskoste te befonds, onverpoos gaan voortduur.

Luidens die hoofbegroting vir 2022-’23, wat in Maart ter tafel gelê is, behoort meer as N$4,9 miljard vanjaar in ontwikkeling gestort word.

Shiimi se hersiene begroting moet onder meer voorsiening maak vir die onbeplande N$924 miljoen in die verhogings in staatsamptenare se salarisse. In sy hoofbegroting het die staat se salarisrol reeds N$30 miljard oorskry.

Ondanks kommer oor fiskale volhoubaarheid en die behoefte vir begrotingshervormings, is daar min bewyse vir die prioritisering van uitgawes, sê McGregor. Hoewel dit prysenswaardig is dat die regering hoër salarisse vir so lank kon stuit, sal die omvang van vanjaar se verhogings waarskynlik tot fiskale verslapping lei, sê hy.

BEGROTINGSTEKORT

Beide McGregor en die onafhanklike ekonoom, mnr. Salomo Hei, glo die regering het beter as verwag gevaar met die invordering van belasting, veral in die mynboubedryf.

Genoteerde maatskappye, veral finansiële instellings, het ook beter resultate getoon.

Die regering se sentrale uitdaging is “taai besteding en inkomsteskokke op verskeie fronte,” aldus McGregor. Boonop kon die regering die afgelope 15 jaar nie met verhogings in uitgawes byhou nie.

“Bestedinghervorming is moeilik en pynlik, waarskynlik met onsmaaklike politieke gevolge,” sê hy.

Die grootste rede tot kommer bly die begrotingstekort en die regering se finansieringstrategie, sê McGregor.

Veral die steuning op die plaaslike mark om die tekort te finansier, is kommerwekkend.

Volgens data van die Namibiese Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings (Namfisa) het pensioenfondse in die land teen die einde van Junie vanjaar 53,4% van hul bates plaaslik belê – ver bo die minimumvereiste van 45%.

“Die befondsing van die begrotingstekort deur Namibiese pensioenfondse is nie volhoubaar nie, veral as die tekort nie vinnig verminder nie en ons nie daadwerklike hervormings sien om ekonomiese groei en werkskepping te verbeter nie,” sê McGregor.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.