Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, sê die verwagting dat brandstofpryse vanjaar sal styg, is sy grootste bekommernis.

Alweendo het Donderdag in die hoofstad by ’n informele ontbytvergadering met joernaliste dit as sy eerste prioriteit van die jaar genoem.

“Brandstofpryse kan waarskynlik met bykans 26% in die volgende ses maande styg. Dit sal nog meer druk op gebruikers plaas. Nie net word die ekonomie geraak nie, maar ook ekonomiese bedrywighede van die privaat sektor,” waarsku hy.

Die minister het klem daarop gelê dat hoewel brandstofpryse in Namibië gereguleer word, hang die prys steeds af van buitelandse pryse van verskaffers wat brandstof invoer.

Brandstofverskaffers kommunikeer met die ministerie oor die vasgestelde pryse en wanneer Namibië se brandstofpryse tot verliese vir hulle lei, word die plaaslike prys aangepas om die verliese terug te win.

Boonop is daar ’n reeks heffings wat toepaslik op die prys van diesel en petrol in Namibië is.

Alweendo sê dis nodig om weer die heffings te hersien.

Dit sluit in ’n heffing vir die Padongelukfonds (MVAF), die Padfondsadministrasie (RFA), die Nasionale Energiefonds (NEF), brandstofbelasting en die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor) – ’n staatsonderneming vir olie-eksplorasie, ontgunning en ontwikkeling.

Namcor besit 10% van ’n eksplorasieprojek wat saam met vennote Shell en QatarEnergy onlangs die ontdekking van maklik verfynbare ligte olie in die see naby Lüderitz aangekondig het.

Alweendo sê egter van die ontdekking: “Dit sal nie die prys van brandstof verminder nie. Dis nie hoe dit werk nie,” sê hy.

Selfs sou die gesamentlike onderneming met hul tweede boorgat wat nou geboor word genoeg olie vir kommersiële ontginning ontdek, oorheers kwessies soos die hoeveelheid, gehalte en mark steeds produksiebesluite, brei hy uit.

Selfs in die geval van Angola subsidieer die regering brandstofpryse met geld wat hulle met die uitvoer van olie verdien, sê hy.

Eksplorasieboorwerk in die see is baie duur met een boorgat wat tot US$75 miljoen kan kos, het hy gesê.

In Namibië se geval is die Graff-1-boorgat – waar die olie ontdek is – diep, wat boorkoste verhoog, en gevolglik ’n impak op produksiekoste sal hê, volgens Alweendo.

Verder sê hy hy verwag om vanjaar te fokus op die vordering van Namibië se planne om groen waterstof te vervaardig.

“Die sintetiese brandstofbedryf is nog jonk en ons onderhandel nou met die verkose bieër oor wetlik bindende ooreenkomste, om te verseker dienste en toerusting kom van binne Namibië, waar moontlik. Daar is ook ’n vaardigheidsuitdaging. Ons benodig om vaardighede uit te brei en sluit dus hoër onderwysinstansies soos Unam en Nust by ons projek in,” sê hy.

Alweendo sê beide olie en hernubare energie soos groen waterstof sal in Namibië bevorder word.

Hy voorspel nie werklik enige teenstrydighede nie.

“Die oorgang tot hernubare energie moet regverdig wees en behoort nie ons ekonomie seer te maak nie. Fossielbrandstowwe kan ons help met die oorgang,” sê hy.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.