Die gebruik van digitale tegnologie in spesiale skole vir leerders met erge intellektuele gestremdheid kan help om belangrike lewensvaardighede by hulle te ontwikkel.

Dít is die mening van die adjunkhoof van Rusthof Skool vir Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes in Suid-Afrika, dr Zelda Botha, wat onlangs haar doktorsgraad in Opvoedkundige Ondersteuning aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. Sy het navorsing gedoen oor die rol wat digitale tegnologie in die bevordering van vaardigheidsontwikkeling vir leerders met erge intellektuele gestremdheid kan speel.

Botha is reeds 29 jaar in die onderwys, waarvan 24 jaar in spesiale onderwys. Sy is passievol oor die ontwikkeling van leerders met erge intellektuele gestremdheid en sê digitale tegnologie behoort as ’n prioriteit in spesiale skole beskou te word.

As deel van haar studie, het Botha onderwyserpersoneel en ’n spraakterapeut by ’n Wes-Kaapse skool vir leerders met erge intellektuele gestremdheid gevra om ’n aanlynvraelys te voltooi. Sy het ook fokusgroep- en individuele onderhoude met hulle gevoer om vas te stel hoe gereeld hulle digitale tegnologie in die klaskamer gebruik en hoeveel jare ondervinding hulle in die gebruik van sulke tegnologie het.

Botha sê sy het die spesifieke skool gekies omdat dit die enigste van die skole vir leerders met erge intellektuele gestremdheid in die Wes-Kaap is waar onderwyspersoneel én leerders digitale tegnologie gebruik. Dit is een van vyf spesiale skole vir hierdie leerders wat deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement met basiese digitale tegnologie toegerus is as deel van die Slim-klaskamerprojek. ’n Slim-klaskamer het wye area-internettoegang en tegnologiese hulpmiddels soos ’n dataprojektor, ’n visualiseerder, ’n interaktiewe witbord, Beamz, Mimio-/eBeam-toestelle en ’n skootrekenaar vir opvoeders. Botha noem dat die onderwyspersoneel by die skool benewens hierdie digitale hulpmiddels ook ʼn rekenaartablet/iPad (vir aflaai van toeps) en ʼn X-box in die klaskamer gebruik het.

Botha sê haar navorsing het getoon dat digitale tegnologie in die onderrig van leerders met erge intellektuele gestremdheid in ’n spesiale skool help met die ontwikkeling van vaardighede wat hulle benodig om optimaal in die werksplek, by die huis en in die samelewing te funksioneer, en ook onafhanklik te wees en hul vryetyd sinvol te bestee.

Aanloklik, interesssant

“Digitale tegnologie met visuele illustrasies, aksies en bewegings maak vaardigheidsontwikkeling vir hierdie leerders aanloklik en interessant. Die gebruik van interessante en interaktiewe sagteware lei na ’n hoër vlak van betrokkenheid (aktiewe deelname) by verskillende aktiwiteite en vaardighede wat aangeleer word.

“Omdat digitale tegnologie leerders se verskillende leerstyle, naamlik visuele, ouditiewe en kinestetiese leerstyle akkommodeer, kan leerders meer suksesvol wees. Hulle is minder angstig en gefrustreerd en ervaar ’n groter gevoel van prestasie en genot.

“Die aanwending van digitale tegnologie in die klaskamer verbeter hierdie leerders se denkvaardighede, kreatiwiteit en hul vermoë om probleme op te los en te kommunikeer.”

Botha voeg by hulle sal op ’n meer persoonlike vlak hul funksionele vaardighede in hul alledaagse roetines, huishoudelike take, werksroetines, produktiwiteit en gedeeltelike onafhanklike funksionering (beperkte selfstandigheid) kan toepas.

Sy sê die leerders se suksesse en leergierigheid wanneer digitale tegnologie aangewend word, het die opvoeders se siening van hierdie tegnologie in die klaskamer, veral met betrekking tot vaardigheidsontwikkeling, handomkeer verander.

“Hoewel sommige opvoeders eers skepties was oor die gebruik van digitale tegnologie vir leerders met erge intellektuele gestremdheid, het hulle deur die gereelde gebruik van die toestelle en toepassings egter meer selfversekerd geraak en was hulle entoesiasties om die sukses van die leerders te deel.”

Botha meen opvoeders moet aangemoedig word om hul eie digitale geletterdheidsvermoëns en die gebruik daarvan te ontwikkel sodat hulle leerders kan ondersteun. “Opvoeders wat daagliks leerders met erge intellektuele gestremdheid onderrig, is van onskatbare waarde is. Danksy hul kennis en ondervinding kan hulle ’n besondere bydrae maak om riglyne vir die toepassing van digitale tegnologie vir vaardigheidsontwikkeling daar te stel.”

Verpakkingstoep

Botha sê die onderwyspersoneel het genoem dat daar nie ’n digitale toep is wat die leerders kan gebruik om die verpakking van glasies en doppies elektronies te oefen nie. Sy het toe ’n verpakkingstoep (Happy Stacky) in die vorm van ’n speletjie ontwikkel sodat die leerders bogenoemde aktiwiteit op die witbord kan inoefen voordat hulle dit prakties uitvoer. Sy het ook ’n tyd-element in die speletjie ingebou om dit vir die leerders meer uitdagend te maak. Die toep bestaan uit drie fases.

Die toep sal wêreldwyd op die Google Play-winkel beskikbaar gemaak word.

Botha sê sy hoop die bevindinge van haar navorsingstudie sal help om opvoeders se perspektiewe rakende digitale tegnologie te verbreed, om bewusmaking te kweek oor die voordele en sukses wat digitale tegnologie vir leerders met erge intellektuele gestremdheid inhou, en om tegnologie deel te maak van toepaslike beleide wat leerders met erge intellektuele gestremdheid raak.

[Bron – Windhoek Express]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.