Terwyl die swak reënseisoen na verwagting oesmislukkings in baie dele van die noordelike kommunale gebied tot gevolg gaan hê, sê talle huishoudings hul kosvoorraad uit verlede jaar se oesseisoen is nou uitgeput.

Die meeste huishoudings is tans afhanklik om kos op markte te koop of droogtehulpvoedsel. Ander, wat nog van hul vorige oeste oorhet, sê dit sal uitgeput wees vóór hul volgende oes.

Dit volg nadat die noorde en die weste van die land minder as 60% van sy gemiddelde langtermynreën tydens die afgelope seisoen ontvang het, het die ministerie van landbou, water en bosbou in sy jongste verslag oor oesverwagtinge en voedselsekuriteit gesê.

Die verslag is saamgestel uit inligting wat tussen 6 Februarie en 3 Maart uit die land se sewe grootste gewasproduserende gebiede versamel is. Die verspreiding van droogtehulpvoedsel na die Kunene-, westelike Omusati- en dele van die Erongostreek het ook begin.

“Talle huishoudings in die gebiede sal na verwagting ’n gebrek aan voedselsekuriteit ervaar omdat hul gewasse verlep het – met geen hoop op herstel nie,” lui die verslag.

“Daarbenewens is weiding swak en droog oor die grootste dele van die land, wat ook dié in gevaar stel wat van hul vee afhanklik is vir hul voortbestaan.”

REËN

Die 2022-’23-reënseisoen was uiters swak, met ondernormale reën wat oor die suidelike Omusati-, Oshana-, Kunene-, grootste dele van die Hardap- en ||Kharasstreek voorgekom het, lui die verslag

Die seisoen het láát begin, met die eerste noemenswaardige reën wat eers teen die einde van Desember en vroeg in Januarie voorgekom het. Dit het ploeg- en plantbedrywighede in die land se grootste graanproduserende gebiede vertraag.

Daarbenewens het die seisoen swak gevorder met wisselvallige reënpatrone en uitgerekte droogtetydperke, wat aan hoë temperature gekenmerk is.

Dienooreenkomstig is landbouproduksie asook die vestiging van weiding, ernstig oor die grootste dele van die land geraak.

GRAANOESTE

Ongeag die swak reënseisoen, sal die gesamentlike graanoes na verwagting vanjaar 5% hoër wees as verlede jaar en ook 39% hoër as die langtermyngemiddeld.

Dit is hoofsaaklik te danke aan meer mielies in kommersiële gebiede wat onder besproeiing verbou is, meer produsente wat toegetree het tot die aanplant van koring en die Zambezistreek se rekord-mielieoes.

’n Mielieoes van 10 400 ton word uit die land se kommunale gebiede verwag. Dit is sowat 30% hoër as verlede seisoen se oes van 8 000 ton mielies en ook 65% meer as die langtermyngemiddeld van 6 300 ton.

Die Zambezistreek het ’n 80% verbetering in produksie op die langtermyngemiddeld gesien, asook ’n 28% verbetering op die vorige seisoen. In die Kavango-Oos- en Kavango-Wesstreek het produksie egter met 34% gedaal teenoor verlede jaar.

Verwagtinge vir die mielieoes uit Namibië se kommersiële mielieproduserende gebiede is ook 4% hoër as verlede jaar, op sowat 94 400 ton. Ongeveer 57% van die oes uit die kommersiële sektor is onder besproeiing gekweek, terwyl die res op droëland verbou is.

Die mahangu-oes word vanjaar op 36 100 ton geraam, wat ’n afname van 19% teenoor verlede jaar se oes is.

Die nasionale sorghum-oes sal na verwagting ook 16% krimp teenoor verlede jaar.

Die nasionale koringopbrengs het met 61% gestyg teenoor verlede jaar en word geraam op 29 800 ton. Die toename word daaraan toegeskryf dat meer produsente tot koringproduksie toegetree het en meer hektare geplant is.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.