Die Shack Dwellers Federation of Namibia (SDFN) het die konstruksie van 30 huise op Gobabis amptelik van stapel gestuur. Die konstruksie van 11 van die huise is moontlik gemaak danksy die ondersteuning van Ohorongo Cement, FNB, deur die FirstRand Namibia Foundation, sowel as die Pupkewitz Foundation.

Carina Sowden, bemarkingsbestuurder van Ohorongo Cement en wat die drie vennote verteenwoordig het, het Albert Einstein aangehaal wat gesê het “streef nie daarna om ’n sukses te wees nie, maar eerder om van waarde te wees”. Volgens Sowden was dit die inspirasie waarom die vennote reeds in 2016 by SFDN aangesluit het.

Die vennootskap het reeds N$18 miljoen belê wat gelei het tot die konstruksie van 395 huise sedert 2016, met nog 45 wat vanjaar in aanbou is. Tydens dieselfde geleentheid is 57 voltooide huise oorhandig aan lae-inkomstegesinne op Gobabis.

Volgens die goewerneur vir Omaheke, Pijoo Nganate, oorbrug vennootskappe soos dié ongelykheidsgaping in gemeenskappe. Hy het ook 100 sakke sement aan die Witvlei-gemeenskap geskenk om SDFN verder te ondersteun. Die ministerie van landelike en stedelike ontwikkeling het hom ook daartoe verbind om meer as N$10 miljoen aan SDFN te skenk as verdere ondersteuning van regeringskant vir beskostigbare behuising.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.