Teen die aand van 25 Februarie vanjaar, ’n dag nadat Russiese tenks die Oekraïne binnegekom het in die grootste militêre aanval in Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog, het Moskou se troepe die buitewyke van Kiëf bereik.

Terwyl die vuur van artillerie in die verte in die hoofstad gehoor kon word, het die Oekraïne se ministerie van verdediging inwoners aangemoedig om petrolbomme te bou om die indringers af te weer. President Volodymyr Zelenskiy het homself saam met assistente in die strate van die stad verfilm en beloof om sy land se onafhanklikheid te verdedig.

“Vanaand gaan hulle ’n aanval loods,” het Zelenskiy gesê.

“Elkeen van ons moet verstaan wat op ons wag. Ons moet hierdie aanval weerstaan.”

Die aanval het egter nooit gekom nie en maande later het Moskou se “spesiale militêre operasie” vasgeval. In sommige plekke is dit besig om te onttrek. Baie in Moskou het verwag Rusland se weermag sou ’n klinkende oorwinning behaal, Zelenskiy se regering uit die kussings lig en ’n Rusland-vriendelike heerskappy instel.

Russiese magte bly in beheer van uitgebreide gedeeltes van Oekraïne se ooste en suide, ten minste 40 000 burgerlikes het reeds gesterf en 14 miljoen verplaas in die volgehoue konflik.

Die Oekraïense magte wat deur miljarde dollar Westerse wapentuig ondersteun word, het gereeld gewys hulle is slimmer en doeltreffender as die Russe wie se moraal laag is.

Dit was ’n soortgelyke storie in Amerika waar die Republikeine en sommige kenners ’n rooi golf in die middeltermynverkiesings voorspel het. Die Republikeinse party het beheer van die huis van verteenwoordigers gewen, maar dit was ’n skrale oorwinning met ’n meerderheid van minder as tien setels. Die party het nie net daarin misluk om die senaat terug te wen nie, maar ook verskeie goewerneurswedrenne. Die Demokrate het geseëvier in al drie die wedrenne vir minister van buitelandse sake in presidensiële slagveldstate waar hul Republikeinse teenstanders die legitimiteit van die 2020-verkiesing ontken het. Middeltermynverkiesings lewer gewoonlik ’n duidelike teregwysing vir die party van die huidige president.

Op ekonomiese gebied het die meeste van die wêreld se groot sentrale banke tot Maart gewag voordat rentekoerse opgestoot is. Die Europese Sentrale Bank het nie ’n skuif voor Julie gemaak nie. Monetêre kommentators het gekla die vertraging het toegelaat dat inflasie die hoogte ingeskiet het.

Vroeë tekens is dat inflasie in sommige ekonomieë ’n hoogtepunt bereik het, maar groei is ook stadig. In ’n paar lande, insluitend Brittanje, bly die vooruitsig donker.

By die Verenigde Nasies (UN) se klimaatsbesprekinge in Egipte, het lande ingestem om ’n fonds te skep om arm lande te help wat deur klimaatsrampe bedreig word. Geen ooreenkoms kon egter bereik word om uitlaatgasse vinniger te verminder nie.

Intussen is rekord hittegolwe in China, vloede in Pakistan en Europa en gletsers wat in Indië, Italië en Chile ineengestort het, tekens van net hoe vinnig ons planeet se klimaat besig is om te verskuif.

Dit was ook die jaar wat protesoptogte in Iran ontplof het ná die dood van die 22-jarige Mahsa Amini, wat in hegtenis geneem is omdat sy ’n “onbehoorlike” hoofbedekking gedra het. Ooggetuies sê sy is aangerand, hoewel Iranse owerhede dit ontken. Die protes, meestal gelei deur vroue, het oor die hele land en maatskaplike klasse versprei. Hoe langer dit voortduur, hoe meer word dit ’n bedreiging vir die 43-jarige Islamitiese rewolusie.

Die Amerikaanse dollar het ook in 2022 die hoogte ingeskiet, krypto het ineengestort en Elon Musk het Twitter gekoop – waar hy soveel skuiwe gemaak het, dit het byna ineengestort.

Dit was dieselfde jaar dat Latyn-Amerika na links geleun het, ’n skietstaking uiteindelik in Ethiopië se burgeroorlog bereik is en Noord-Korea die een missiel na die ander afgeskiet het. Dit was die jaar wat Brittanje ’n koningin verloor het, ’n koning gekry het en drie eerste ministers in Downingstraat gehad het.

Die meeste van die wêreld het uit sy Covid-19-koma ontwaak, ten minste sosiaal en in epidemiologiese terme.

Die groot uitsondering was China wie se zero-beleid teen Covid tot onrus en protesoptogte gelei het. In Oktober het die land se tweekeer-in-’n-dekade-kongres van die Kommunistiese Party gesien hoe president Xi Jinping sy magsgreep versterk en ’n derde termyn verower in teenstelling met tradisie van die party dat presidente net twee termyne dien.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.