Namibië het vanaf Januarie tot November vanjaar sowat 9,2 miljoen kilogram beesvleis na verskeie bestemmings uitgevoer, wat 25,72% meer is as die volumes wat in 2021 se vergelykbare tydperk aangeteken is.

Net so het beesvleisinvoere teen einde November op sowat 2,1 miljoen kilogram gestaan – ‘n toename van 26,34%.

Van hierdie invoere was 65,62% geblikte produkte, 24,81% was afval en die oorblywende 9,57% het uit beesvleispasteie bestaan.

Volgens die Vleisraad van Namibië het die bemarking van beeste gedurende November met 3,14% gekrimp nadat dit in Oktober met 2,16% gegroei het.

Altesaam 19 744 beeste is verlede maand bemark, vergeleke met 20 414 koppe wat gedurende dieselfde tydperk in 2021 bemark is.

“Die afname kan toegeskryf word aan die deurset by B- en C-klas abattoirs wat met 63,03% gedaal het, tesame met ‘n afname van 2,91% in lewende uitvoere,” het die Vleisraad gesê.

Intussen het uitvoergoedgekeurde abattoirs ‘n toename in deurset ervaar en ‘n sterk groeisyfer van 50,15% aangeteken.

SKAAPBEDRYF

Die Vleisraad het bygevoeg dat bemarking binne die skaapbedryf merkwaardige verbetering gedurende November getoon het.

Dit as gevolg van opgehoopte aanvraag ná die verbod op die verskuiwing van diere na Suid-Afrika.

Teen einde November vanjaar het skaapvleisinvoere op 282 400 kg gestaan vergeleke met 237 980 kg wat in dieselfde tydperk in 2021 ingevoer is.

“In November vanjaar is daar egter ‘n daling van 89,22% in skaapvleisinvoere ervaar vergeleke met November 2021. Skaapvleisinvoere was 6,5 keer meer as skaapvleisuitvoere teen einde November weens ‘n vertraging in plaaslike slagbedrywighede,” het die Vleisraad gesê.

In geheel het skaapbemarking gedurende November met 37,54% gegroei, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.

“Lewendige uitvoere na Suid-Afrika en Botswana was die grootste dryfvere van die groei sowel as deurset by uitvoergoedgekeurde abattoirs.”

BOK-, VARKVLEIS

Bemarkingspogings binne die bokbedryf het relatief stabiel gebly en het verlede maand ‘n geringe groei van 1,83% aangeteken, vergeleke met dieselfde tydperk in 2021, het die Vleisraad gesê.

“Die groei – alhoewel marginaal – kan toegeskryf word aan die toename in die aantal bokke wat lewend uitgevoer word, hoofsaaklik na Suid-Afrika en dié wat by B- en C-klas-slagplase suid van die veterinêre kordonheining (VCF) geslag word.”

Verder bly Namibië ‘n netto invoerder van varkvleis, het die raad gesê, en bygevoeg dat altesaam 6,13 miljoen kilogram varkvleis teen die einde November na die land ingevoer is. Hiervan het 55% uit varkafval bestaan , 22% verwerkte produkte, 21% varkvleissnitte en 11% uit varkvleiskarkasse.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.