Wie is die produsente wat na alle waarskynlikheid binne die volgende dekade uit die boerdery sal tree? Watter faktore het die grootste invloed op hul besluite in hierdie opsig? En wat beteken hulle planne om uit te tree vir die beskikbaarheid van landbougrond vir plaasuitbreiding en nuwe toetreders?

Hierdie is ’n paar van die vrae wat dr. Kandas Cloete in haar PhD-studie in landbou-ekonomie beantwoord het. Sy het dit onlangs van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Agriwetenskappe ontvang.

Haar proefskrif verskaf onder meer nuwe insigte in faktore wat produsente se besluit om uit die sektor te tree, beïnvloed.

BLY OF GLY – DIS DIE VRAAG

Hierdie studie is tot op hede die grootste van sy soort wat ondersoek instel na plaasvlakuittreebesluite en die tempo waarteen produsente plase in Suid-Afrika verlaat.

Cloete, wat grootgeword het op ’n plaas buite Laingsburg, het in 2021 haar studies in die departement landbou-ekonomie voltooi. Sy werk tans as ’n senior analis vir die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP).

“Ons almal ken iemand, of iemand wat iemand ken, wat in die afgelope paar jare uit die landbou getree het,” het Cloete gesê.

“Die vraag waarom produsente uit die boerdery tree en hulle grond verkoop, is ’n onderwerp wat histories in datatabelle en vanuit ’n beleidsperspektief gedek is. My belangstelling was om vooruit te skat of hierdie patroon gaan voortduur, en wat die dryfkragte agter die besluit om uit te tree of aan te bly, is.”

In leketerme het Cloete se studie gefokus op die besluite wat produsente wat uit die boerdery wil tree, waarskynlik ten opsigte van grondgebruik gaan neem gedurende die volgende tien jaar, en op die wyse waarop hierdie besluite moontlik die landboustelsel kan beïnvloed.

Sy sê “grondvraag en -aanbod bly ’n komplekse en veelsydige verskynsel, maar dit kan in kleiner dele opgebreek word deur gestruktureerde ontledingsmetodes te gebruik soos in hierdie studie”.

Ten einde faktore te identifiseer wat produsente se bereidwilligheid om hulle grond te verkoop, dryf, het Cloete die terugvoer van 450 deelnemers aan ’n opname oor grondgebruikspatrone oorweeg.

Cloete het produsente wat beplan om uit te brei, diegene wat hulle boerderywerksaamhede wil behou soos dit tans is, en diegene wat beplan om uit die sektor te tree, ingesluit.

Sy het in haar studie van verskeie navorsingstegnieke gebruik gemaak, insluitend statistiese modellering. Dit het haar in staat gestel om ’n basislyn vir boerdery-uittreetempo te bepaal, d.w.s. die tempo waarteen grond beskikbaar in die oop mark kan word.

Deur middel van ’n ontleding wat 23 veranderlikes behels het, het sy vier afsonderlike groepe van respondente geïdentifiseer: die “ambisieuses”, die “volhouers”, die “uittreders”, en die “aanblyers”.

EEN UIT VYF PRODUSENTE WIL UITTREE

Een uit elke vyf van die produsente wat aan Cloete se studie deelgeneem het, het aangedui dat hulle beplan om binne die volgende dekade uit die boerdery te tree.

Terwyl “uittreders” binne die volgende dekade uit die boerdery gaan tree, beplan produsente in die “ambisieuse”, “volhouer”- en “aanblyer”-groepe om aan te hou boer.

Verder wys die data daarop dat produsente wat tans tussen 30 en 45 jaar oud is, meer waarskynlike kandidate is om uit die boerdery te tree as dié wat tussen 45 en 65 jaar oud is.

Cloete kan nou, tot in besonderhede, die gemiddelde produsent wat waarskynlik uit die boerdery gaan tree binne die volgende dekade, beskryf.

“Hy is ’n derde-generasie, 54 jaar oue individu met 26 jaar ondervinding en ’n kollege- of universiteitsgraad,” sê sy.

“Hierdie produsent betaal tipies nog af aan langtermynlenings, terwyl hy ook produksielenings en ander tipes skuldkapitaal gebruik.

“Gegewe die finansieel-beperkende posisie waarin hy homself bevind — tesame met ’n gebrek aan sakevertroue — is sy finansiële strategie om sy plaaswerksaamhede in te krimp eerder as om uit te brei. Gevolglik bly dit ’n uitdaging om verskeie lenings te bestuur terwyl hy ook vir aftrede moet beplan.”

Alhoewel die besluit om aan te bly in die landbousektor of daaruit te tree, dikwels ’n persoonlike een is, gedryf deur die unieke omstandighede van die produsent, het Cloete steeds sekere gemeenskaplike temas tussen die vier verskillende groepe gevind.

Boerdery-uittreebesluite word deur beleggingskoste, finansiële beperkings en die produsent se ouderdom beïnvloed, wys Cloete se resultate.

Ander beslissende faktore sluit in: Aftrede sonder opvolging, finansiële probleme, ’n gebrek aan betroubare arbeid, onsekerheid aangaande grondhervormingsbeleid, en kommer oor landelike veiligheid.

Terwyl geen verband tussen omset en uittreeplanne vasgestel kon word nie, sou ’n groter omset (van meer as R10 miljoen per jaar) beslis ’n rol kon speel in die besluit om aan te bly.

Cloete sê produsente se besluite om aan te hou boer word ook beïnvloed deur sakevertroue en produksielenings.

“Dit is gewoonlik ’n kombinasie van verskillende faktore wat die besluit bepaal om uit die boerdery te tree en die grond te verkoop,” sê sy.

‘GRONDMARK FUNKSIONEER GOED’

Cloete sê daar is genoeg grond beskikbaar in die mark, as gevolg van die uittreeplanne van sekere produsente, om ander wat óf tot die sektor wil toetree óf hulle huidige werksaamhede wil uitbrei, te akkommodeer.

“Die resultate wys dat die Suid-Afrikaanse grondmark inderdaad goed funksioneer,” sê sy.

“Dit word bewys deur produsente se voorneme om uit die boerdery te tree. Daarom is grondaanbod — in die algemene sin — nie ’n beperkende faktor in transformasie (in die landbousektor) nie.”

Nogtans word die grondmark in ’n mate beperk deur hindernisse tot die uittrede uit die boerdery, wat omsit in ’n direkte hindernis tot toetrede vir voornemende boere.

“Dikwels skep een persoon se besluit om uit te tree ’n geleentheid vir ’n ander persoon. Daardie produsente wat besig is om uittreeplanne te maak, is ook besig om uitbreiding deur ander produsente en toegang vir nuwe toetreders moontlik te maak.”

Cloete het die faktore wat produsente mag verhinder om uit die boerdery te tree en wat hulle besluitnemingsproses mag beïnvloed, gekategoriseer as relevant tot een van drie faktore: finansiële kwesbaarheid, versonke koste (bates aangekoop teen sekere pryse, wat nie teen boekwaarde verkoop kan word nie) en transaksiekoste (die totale koste verbonde aan ’n verkooptransaksie).

Daarby is pagsoek, grondeienaarskap en die persepsie dat grondmarkpryse sal groei, ook geïdentifiseer as hindernisse tot uittrede (uit die boerdery).

Cloete sê wat wel kommerwekkend is, is die aantal produsente wat beplan om voort te gaan met hulle werksaamhede ten spyte daarvan dat hulle beperk word deur bestaande finansiële verpligtinge en die feit dat hulle nie beplan om in die toekoms te belê nie.

“Terwyl dit lyk asof daar gesamentlik ’n groot aptyt is om, by wyse van spreke, die bul by die horings te pak, word sommige produsente genoodsaak om uitdagings na die beste van hul vermoë te hanteer, terwyl hulle kan, om waarde toe te voeg – op die inkomste- en balansstate. Baie produsente sal egter uiteindelik aftree en hulle plase verkoop omdat geen ander lewensvatbare oplossing beskikbaar is nie.”

Nogtans beïnvloed finansiële kwesbaarheid, as gevolg van die risiko’s verwant aan boerdery, produsente se finansiële posisie en laat dit dikwels produsente wat besig is om ouer te word onvoorbereid vir aftrede, sê Cloete.

“Moontlik is die grootste kwessie nie die verlies van 20% van ons produsente wat binne die volgende tien jaar gaan uittree nie, maar eerder die feit dat diegene wat behoort uit te tree, hulself vasgevang vind deur die hindernisse tot uittrede en nie ’n uittreestrategie het nie,” voeg sy by.

Cloete het finaniering ontvang van die Nasionale Navorsingstigting (NNS). Die titel van haar proefskrif is “Investigating farm-level exit decisions and exit rates in commercial agriculture in South Africa: An agent-based approach”.

*Die artikel is verskaf deur die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.