Terwyl reëntoestande vir Namibië na verwagting weer vanaf môre of Donderdag kan verbeter, dui langtermynvooruitsigte steeds dat ’n gemiddelde tot bogemiddelde reënseisoen op pad is.

In sy jongste vooruitskouing van 15 Desember sê die ministerie van werke en vervoer se afdeling vir meteorologiese dienste dat die seeoppervlaktemperature oor die sentrale en oostelike ekwatoriale Stille Oseaan steeds sy La Niña-tendense voortsit.

“’n Gemiddelde tot bogemiddelde reënseisoen kan tussen Desember en Mei volgende jaar oor die hele Namibië verwag word, alhoewel die verre suidweste gemiddelde tot ondergemiddelde reën in die láátsomer te wagte moet wees.

“Oor die algemeen voorspel die meeste modelle ’n 75% kans dat La Niña-toestande sal voortduur, wat tot ’n normale tot bonormale seisoen tussen Desember 2022 en Mei 2023 sal lei,” het die meteorologiese dienste se waarnemende adjunkdirekteur, Olga Tjiueza, gesê.

Vir die maande Desember tot Februarie, asook vir Januarie tot Maart en weer Februarie tot April, is daar ’n 40% kans op normale reëns, ’n 35% kans op bogemiddelde reën en ’n 25% kans op ondergemiddelde reën, volgens weerkaarte wat deur die meteorologiese dienste verskaf is.

Tussen Maart en Mei is daar egter ’n 40% kans dat die verre suidweste gemiddelde reën kan ontvang, maar ook ’n 35% kans op ondergemiddelde reën en ’n 25% kans op bogemiddelde reën.

Die onafhanklike landbouweerkundige, Johan van den Berg, het ook voorheen aan Republikein gesê dat Namibië se beste reën nog op pad is en dat dit oor die “langer termyn” lyk asof Desember en Januarie gemiddelde tot bogemiddelde reënmaande vir Namibië kan wees – hoofsaaklik danksy die “La Niña-weerverskynsel”.

Die Australiese Buro vir Meteorologie sê ook La Niña-toestande duur steeds voort in die tropiese Stille Oseaan en intussen volwassenheid bereik het, met die meeste weermodelle wat voorspel dat neutrale Enso-toestande weer in Januarie of Februarie 2023 kan intree.

Die buro het in hul jongste vooruitskouing gesê dat die Indiese Oseaan-dipool (IOD) se negatiewe fase tot ’n einde gekom het en dit neutrale waardes vroeg in Desember gehandhaaf het. Die Australiërs sê egter dit is in ooreemstemming met die seisoenaliteit van die IOD.

’n Negatiewe IOD kan egter tot ’n goeie somerreënseisoen in Suider-Afrika bydra.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.