Winderige, nat en koue toestande word vanaf vandag in die ||Kharasstreek verwag, terwyl dit die naweek baie koud in die suidelike, sentrale en oostelike dele van die land sal wees.

“Mense moet die nodige voorsorg tref,” waarsku die Namibiese weerkantoor.

Die weerkantoor se hoofweervoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi het gister aan Republikein gesê die naweek se koue kom “eintlik” na Suid-Afrika toe. Hy is tans by ʼn weersimposium in dié land.

“Koue weer syfer deur na Namibië vanaf môre – spesifiek in die Suide, waar daar ook ʼn kans op reën sal wees. Die kouespel kan verder na die binneland migreer en oor die sentrale en oostelike dele van die land beweeg,” het hy gewaarsku.

Windhoek kan môre so koud as -5 °C wees, met ʼn maksimumtemperatuur van 17 °C. Vir Saterdag en Sondag word minimumtemperature van -3 °C en -1 °C vir die hoofstad voorspel.

Gobabis se minimum- en maksimumtemperature vir môre is -3 °C en 17 °C, terwyl Mariental -3 °C en 16 °C en Keetmanshoop -1°C en 14 °C sal wees.

Verder noord sal temperature meer gematig wees, met Otjiwarongo waar ʼn minimum- en maksimumtemperatuur van 1°C en 24 °C voorspel word. Koeler weer sal Rundu eers Saterdag bereik met ’n minimum- en maksimumtemperatuur van 4 °C en 24 °C.

WEERSTELSELS

LandWater, ‘n nieregeringsorganisasie wat satellietbeelde en weerstelsels ontleed, het onlangs gewaarsku dat, veral wat Suid-Afrika betref, “’n opwindende, maar moontlik baie gevaarlike reëntyd met ‘n besonderse kragtige laagdrukgolf in die bolug” betree word.

Die organisasie sê egter hierdie koue en reën is bitter nodig vir Suider-Afrika se winterreënvalstreek en dit kan moontlik deur nog ʼn vlaag koue en reën teen 23 Mei opgevolg word.

Die laagdrukgolf in die bolug het reeds vanaf gister sterker oor die suidelike punt van die vasteland inbeweeg, met die kouekern bo-sikloon wat vanaf môre binne hierdie laagdrukgolf gaan ontwikkel.

Reën en koue word dus reeds al van vandag af in die Kaap verwag.

LandWater waarsku dat hierdie ʼn uiters gevaarlike ontwikkeling vir groot dele van Suid-Afrika kan wees, maar slegs as die stelsel effens meer noordwaarts sou neig.

Inwoners van Limpopo, die kusprovinsies asook die sentrale en oostelike dele van Suid-Afrika mag dalk die spit afbyt, sou die weerstelsel ontaard.

LandWater meen aardverhitting sal in die toekoms daarvoor sorg dat Suid-Afrika al meer van die soort uiterste weersomstandighede ervaar, veral langs die sentrale tot noordoostelike Wildekus-, Suidkus- en Dolfynkus-gebiede.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.