Landbou Wenke

Uitbreidings van sowat N$80 miljoen is tans by Beefcor op Okahandja aan die gang om die verdubbeling van deurset tot 50 000 beeste volgende jaar te ondersteun. Intussen slag dié bees­vleis-uitvoerabattoir vol kapasiteit – ook op Saterdae om die hoë volumes weg te werk. Tans staan die maandelikse deurset op sowat 2 600 beeste, gemiddeld tussen 120 en 130 per dag.

“Ons het nog nie een produsent weggewys nie terwyl betalings streng volgens ooreenkoms binne dertig geskied,” sê Beefcor se Bru­wer Swanepoel. Afgesien van deurlopende voorsiening van produsen­te ondersteun Beefcor se Hochfeld-voerkraal volgehoue deurset waar­van die staankapasiteit 12 000 is. Tans is tussen 6 000 en 7 000 beeste op voerkraal.

Volgens hom is die grootste enkele uitgawe van die N$80 ­miljoen se uitbreidings ’n amoniak-verkoelingsaanleg waarvan die koste N$25 miljoen beloop. “Dit is wel ’n duur kapitale-uitleg om die koue ketting te verdubbel, maar oor die lang termyn die moeite werd met ’n energiebesparing van tussen 25 en 30%.”

Terselfdertyd nader ’n nuwe aanleg van 1 000 vierkante ­meter vinnig voltooiing vir vleiswerking en prosessering vir die ­binneland­se mark, voeg Bruwer by. “Uitbreidings by die hoofkantoor sal ook binne twee maande afgehandel wees. Voorts het Beefcor begin ­Augustus ’n nuwe verspreidingspunt by die Academia-vulstasie in Windhoek geopen bykomend tot die een in die noordelike nywerheidsgebied van die hoofstad. Op Okahandja is die ou Piet’s Biltong sowat ’n jaar gelede omskep in ’n moderne Beefcor-slaghuis met ’n volledige reeks rooivleisprodukte, hoender, vark en vis.”

Oor die toekoms van die vleisbedryf sê Bruwer dit is in nasionale belang dat oorsese uitvoerkwotas op meriete toegeken word om die speelveld vir almal gelyk te hou. Die toetrede van nuwe rolspelers verwelkom hy ook. “Kompetisie bring die beste uit jou.”

[Bron – AfriForum Namibia]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.