Die verwagting is dat ’n eie slag- en verwerkingsaanleg vir Wagyu-beeste reeds in Oktober in Namibië in bedryf sal wees. Die abattoir op Rehoboth is vir dié doel bekom.

Die Namibiese Wagyu-teler van Dordabis en sakeman Sarel du Toit wat dié inisiatief dryf, sê die ontwikkeling van die kapi­taalprojek van N$50 miljoen spruit uit spesiale behoeftes vir Wagyu-verslagting met versnitting en gradering wat heeltemal verskil van dié van ander beeste, langer en intensiewer verkoeling voordat gradering plaasvind en die probleem om slagbeurte by ander abattoirs te kry vanweë die groot karkasse van gemiddeld 400 kg.

“Ons gaan nie in die makro-­omgewing meeding teen Beefcor, Savanna Beef Processors of Meatco nie. Dit gaan suiwer oor die opgradering en vernuwing van ’n bestaande aanleg om ’n hoëwaarde-mark met ’n hoëwaarde-produk te betree. Die verslagtingskapasiteit van dié aanleg is ’n maksimum van 70 beeste en 250 kleinvee per dag met jaarlikse deurset van 14 000 beeste.”

Sarel voeg by dat die aanleg ook kommersieel beskikbaar sal wees vir die verslagting van ­ander beeste en kleinvee. Voorts word ’n voerkraal vir 1 000 speenkalwers beplan om as deurgangsgerief op die B1-hoofroete na Suid-Afrika te dien vir die versameling en sortering van diere uit verskillende dele van die land om vragte vol te kry na Suid-Afrika in afwagting op die afhandeling van nodige permitte en protokolle.

Tans word die Reho Abattoir bedryf vir binnelandse bemarking (klas C). Planne is om dit so gou as moontlik op te ­gradeer vir bemarking in die Suider-Afrikaanse streek (klas B) om teen einde volgende jaar oorsese uitvoerstatus (klas A) te bekom vir die versending van Namibiese Wagyu-vleis na Noorweë en die Europese Unie (EU). ’n Volledige ontbenings- en verpakkings­aanleg vorm deel van klas B- en klas A-uitbreidings vir die bemarking van Wagyu-kruisosse (F1 tot F4 en volbloed).

’n Verdere bonus is dat die Wagyu met geharde, aangepaste beesrasse in die land gekruis word en nie intensief op volvoer grootgemaak word nie. Só word gebaat by Namibië se natuurlik geproduseerde vleis wat internasionaal gesog is. Enkele besen­dings van Namibiese Wagyu-vleis is reeds met groot smaak en sukses in die EU-mark ontvang.

Afgesien van sy uitstekende ligging op die B1-hoofroete het die Reho Abattoir die voordeel van die Oanob-dam in ’n uitstekende opvanggebied en ’n bestaande 100 kW-sonkragstelsel wat mettertyd uitgebrei sal word.

Eienaarskap werk só

Die Namibiese maatskappy Exigrade Feeds, waarby hy belange het, en die Desert Wa­gyu-maatskappy van hom en twee ­ander Namibiese telers het die aandele van die Rehoboth Gemeenskapstrust in die ­private Reho Abattoir oorgeneem. Kontrakte is in die proses om afgehandel te word vir beoogde oorname einde September.

Exigrade Feeds is ’n gevestigde Nami­biese maatskappy met twee vismeelaanlegte op Lüderitz en Walvisbaai – ook toegespits op nismark-uitvoer. In totaal word 98% van die top-kwaliteit vismeel na Taiwan, Japan en China uitgevoer. Dié maatskappy maak deel uit van die veel groter DAS-groep wat wêreldwyd spesialiseer in die in- en uitvoer van grondstowwe en sake doen in Suid-Afrika, Australië en Namibië. Sarel is die direksievoorsitter van die DAS-groep met jarelange kennis van nismark-sakeontwikkeling.

Volgens hom is ander Wagyu-telers welkom om belange in Desert Wagyu te bekom wat tans aan hom (LW Wagyu ­Mimosa Farming Pty Ltd), Günther Henle (Top Wagyus) en Danie Myburgh (Friedenau Wagyus) behoort.

Jaco Smith gaan as die Reho-abattoirbestuurder optree. Hy is ’n ingenieur van beroep en tans die hoofuitvoerende beampte van die DAS-groep.

[Bron – AfriForum Namibia]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.