Die Namibië Landbou-unie (NLU) sê in sy ekonomiese oorsig van die landbousektor in die tweede kwartaal vanjaar produksiekoste het sedert Junie 2021 aansienlik toegeneem.

Die rede daarvoor is reusestygings in die pryse van sekere noodsaaklike landbou-insette. In sommige gevalle was prysstygings hoër as 50%, soos in die geval van byvoorbeeld brandstof (57%) en ureum (102%).

Uream is ’n grondstof van beide kunsmis en veevoer, wat beteken dit raak akkerbouers én veeboere.

Die NLU sê omdat Namibië ‘n netto invoerder van landbou-insette is, word geen verligting in produksiekoste in die volgende kwartaal verwag nie aangesien internasionale en gevolglik plaaslike voer-, kunsmis- en brandstofpryse, na verwagting hoog sal bly.

Boere se inkomste uit veebemarking het egter verbeter as gevolg van gunstige pryse wat in die tweede kwartaal aangeteken is.

Verder het die bemarking van vee redelik goed gevaar gedurende die eerste helfte van die jaar.

Altesaam 20,3% meer beeste, 38% meer skape en 8,5% meer bokke is hierdie seisoen bemark vergeleke met dieselfde tydperk in 2021, terwyl die aantal varke wat geslag is, met 4,3 % toegeneem het.

Die land se uitvoerabattoirs het 60,4% meer beeste tussen Januarie en Junie 2022 geslag as in die ooreenstemmende tyd in 2021, terwyl 22,1% minder beeste op veilings gesien is.

Volgens die NLU kan die bek-en-klouseer-uitbrekings in Suid-Afrika en die buurland se landswye verbod op die beweging van enige beeste, ingesluit speenkalwers uit Namibië en Botswana, veemarkte skud.

Afwaartse druk word op die pryse van speenkalwers by veilings verwag.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.