Plaaswerkers in die kommersiële sektor van Namibië word tans gemiddeld meer as 80% van die minimum uurlikse besoldiging betaal, het ’n opname bevind.

Dit terwyl hul totale vergoedingspakket die afgelope ses jaar meer as verdubbel het vanaf N$1 667 per maand in 2016 tot N$3 933 in 2022.

Daar is gemiddeld 7,82 werknemers per werkgewer op kommersiële plase in Namibië, vergeleke met 8,82 in 2020.

Die loonopnameverslag, gepubliseer deur die Landbouwerkgewersvereniging (LWV), verteenwoordig 2 207 permanente werknemers.

Altesaam 1 363 (56,60%) van alle permanente werknemers in hierdie opname se afhanklikes woon saam met hulle op die plase (57,11% in 2020).

Die gemiddelde dienstydperk vir permanente werknemers in Namibië is 7,37 jaar, terwyl die meerderheid (58,6%) algemene werk op plase verrig.

’n Vergoedingspakket bestaan uit ’n kontantloon, ’n kontanttoelaag, droë rantsoene, nat rantsoene, ander voedsel wat op die plaas geproduseer word sowel as behuising, vee en gratis vervoer.

Vir 2022 het die geldelike komponent van werknemers se vergoeding 66% uitgemaak, terwyl die niegeldelike komponent 34% van die totale pakket uitgemaak het.

Luidens die verslag het die huidige intreevlak-minimumloon van N$5,40 per uur in Januarie in werking getree.

“Plaaswerkers se werklike gemiddelde uurlikse besoldiging – volgens hierdie opname – is N$9,98 per uur, wat 84,81% meer is as die huidige minimum loon.”

DWELMMISBRUIK

Verder het die verslag bevind 33,9% van werkgewers het gevalle van alkohol- en middelemisbruik onder hul werknemers binne die verslagtydperk aangemeld.

Sedert 2018 is daar ook ’n toename in plaaswerkers wat afgedank word weens alkoholmisbruik – vanaf 4,9% tot 6,3%.

Die meeste van die werkbeëindigings was bedankings (35,5%) en werkers wat nie by die werk opgedaag het nie (22,7%), terwyl 46,4% van alle beëindigings gedurende die 2021-’22-boekjaar weens afdankings was.

Slegs 2,3% van werknemers is afgelê.

Diefstal deur plaaswerkers het sedert 2018 toegeneem – vanaf 4,7% tot 5,6%.

Altesaam 304 plaaswerkers het volgens die respondente hul werksplek binne die opnametydperk verlaat. Hierdie syfer verteenwoordig 11,07% van alle werknemers in die opname, vergeleke met 13,37% in 2020.

WOONOMSTANDIGHEDE

Boere het aangedui daar is 2 550 werkershuise op grond waar boerderybedrywighede plaasvind, terwyl 39,41% van werknemers se huise hul eie was- en toiletgeriewe het. Die res maak gebruik van gedeelde ablusiegeriewe.

Die gemiddelde waardasie van ’n tipiese plaaswerkershuis met ’n stort, toilet en onderdakstoep is ongeveer N$3 600 per vierkante meter.

Intussen word 66,89% van werkershuishoudings in die opname van elektrisiteit voorsien, terwyl 29,84% van huishoudings toegang tot sonkrag het.

Die opname het bevind 87,07% van werkershuishoudings gebruik daagliks gratis vuurmaakhout. Die gemiddelde waarde van hierdie bykomende voordeel vir plaaswerkers word op N$450 per werknemer per maand geraam.

WERKBESERINGS

’n Effense afname in beserings wat by die werkplek opgedoen is, vergeleke met die vorige loonverslag, is aangemeld.

Altesaam 10,54% van werkgewers het 78 werkplekbeserings aangemeld. Van hierdie gevalle is 18 uitsluitlik op die plaas behandel en 43 is by mediese geriewe behandel.

In 2020 het 10,7% van werkgewers 102 werkbeserings aangemeld.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.