Namibië kan goeie reën in die eerste helfte van Desember verwag en dan weer in Januarie, terwyl die tweede deel van Desember asook Februarie na verwagting ietwat droër sal wees.

Só meen mnr. Johan van den Berg, ’n onafhanklike landbouweerkundige, wat gister vanuit Bloemfontein die jongste weervooruitsigte vir Namibië met Republikein gedeel het.

“Dit lyk asof die toestande vir reën in Namibië nou begin verbeter.

“Oor die afgelope dae en selfs weke het daar enkele reënbuie oor die noordelike dele van Namibië begin voorkom, maar suidwaarts was daar nog min reën. Dit het ’n bietjie in Oktober in die Suide gereën, maar dit was nog nie baie nie,” sê hy.

Hy sê egter die noordelike gebied moet gereed wees om voorts reën te begin ontvang.

Dit stem ooreen met die Namibiese weerkantoor, wat vir vandag donderstorms in die Noorde voorspel.

VÓÓR MAANDEINDE

“Dit lyk asof die noordelike en noordoostelike gebiede voor die einde van November reënbuie van sowat 10 mm tot 20 mm kan verwag. Dan blyk dit dat die gebiede ook in die eerste helfte van Desember meer reën kan verwag, met reënbuie van sowat 20 mm tot 30 mm wat moontlik is.

“Suid van Windhoek verwag ons vir eers slegs ligter reën,” sê hy.

Van den Berg verduidelik die La Niña-weerverskynsel het nou ’n piek bereik het, terwyl dit vir die derde agtereenvolgende jaar ’n houvas op wêreldwye weerstoestande gekry het.

“Dit sal waarskynlik van nou af verswak. Die gevolge hiervan is dat Namibië nog redelik reën in Desember en veral in Januarie sal kan verwag, maar die tweede deel van die somer, vanaf Februarie, kan dit droër wees.”

Van den Berg het onlangs aan die koerant gesê ná die komende reënseisoen sal La Niña-toestande na verwagting sy greep in opvolgende reënseisoene begin verloor.

Dit kan dan plek maak vir meer neutrale of El Niño-tipe toestande oor die volgende aantal jare, het hy gesê.

AUSTRALIë

Dit stem ooreen met die Australiese Buro vir Meteorologie, wat in sy jongste vooruitskouing gesê het atmosferiese en oseaniese aanwysers van die El Niño-Suidelike Ossillasie (Enso) weerspieël ’n volwasse La Niña.

Terselfdertyd duur die negatiewe fase van die Indiese Oseaan-dipool (IOD) voort, alhoewel dit onlangs vir die eerste keer in vyf maande ’n neutrale waarde bereik het.

ʼn Negatiewe IOD is gunstig vir reënneerslae in Suider-Afrika, terwyl dit ook in Australië die kanse op bogemiddelde reën in die winter en tot in die lente verbeter.

Tydens die IOD se negatiewe fase, kom koeler water in die westelike gebied van die Indiese Oseaan, teenaan die kus van Afrika, voor en warmer water nader aan Australië.

[Bron – Repubikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.